Local newsLocal sportNewsSport

Gholfdag ten bate van kinders in nood

Besighede regoor die Wes-Rand het putjies geborg en hul beste houe probeer speel ter ondersteuning van Grain Care se jaarlikse gholfdag.

Sport bring mense bymekaar en gholf is geen uitsondering nie. Dis wêreldwyd gewild.

Vir party spelers is dit ‘n saak van erns en hulle oefen week in en week uit op die 18-putjiebane om die volgende Gary Player te probeer word. Aan die ander kant is daar die Kaptein Kirk – die speler wat die bal in ‘n rigting slaan waarheen geen ander bal nog ooit getrek het nie. Daar is ook die Amelia Earhart wat op die oog af ‘n goeie hou slaan, maar dit wil voorkom of die bal van die aardbol af verdwyn het.

Gholf is ‘n gewilde spel wat ook vir ‘n goeie doel aangewend kan word, soos om fondse in te samel, ‘n verskil te maak, nuwe werksverhoudinge te skep en bande te verstewig. Daar is gewoonlik ook smullekker kos, soos in die geval van Grain Care Trust se jaarlikse gholfdag wat op Dinsdag, 31 Mei by die Ruimsig Buiteklub aangebied is.

Daar was groot oomblikke van vreugde ook. Foto: Clinton Botha.

Volgens Jackie van der Walt van die Grain Care Trust was die fokus en hoofprioriteit vanjaar spesifiek kinders in nood. Sy het vertel dat 16 van die 18 putjies geborg is, met Volvo as hoofborg. Ander besighede aan die Wes-Rand met harte van goud, die sogenaamde goue borge was onder andere Hollard, Mapogo, ABSA, Trailmax, Libra, Shell en SA Truck Bodies/ Henred.

Die tema was Around the world in 18 holes en elke putjieborg kon ‘n land verteenwoordig om so ‘n vrolike baan te skep vir die 112 gholfspelers.

Die Ruimsig-baan het pragtig vertoon en natuurlik het die Grieke die kollig gesteel met hul spoggerige ingang en tradisionele klere. Daar was selfs Griekse disse. Die Duitse vroue was geklee in hul dirndls, die Amerikaners het met hul star-spangled banner, burgers en corn dogs gespog, en die vroue van Indië het in hul sarees gepronk.

Anel Knoetze en Beverley Coetzee van Grain Carriers Randfontein.

Op die baan en setperke het die gees van gesellig tot lekker kompeterend gewissel. Later die aand is ‘n onvergeetlike prysuitdeling gehou met grapjas Andries Vermeulen as die seremoniemeester en afslaer. Die sanger Nadine het van haar Nellie Vellies-handsakke en -grimeersakkies saamgebring wat ook tydens die aandfunksie opgeveil is ten bate van kinders in nood.

Al hierdie dinge is gedoen om Grain Care se begunstigdes naamlik Gateway Skool (Roodepoort); Cross Connect – Huis Nehemiah (Krugersdorp); Vryburgers George se Kos-vir-Kindersprojek; en die Hilltop Legacy-projek vir kinders in nood (Paarl) te ondersteun.

Grant Thesner, Dewald Naudé, Carike van der Merwe en Dewald Sonnekus van Mapogo.

“Al hierdie instansies het by Grain Care aansoek gedoen en verskeie behoeftes is geïdentifiseer waarvoor hulp nodig is,” het Jackie gesê.

Danksy die wonderlike skenkings van die hoofborge en putjieborge, en die opbrengs van die veiling was hierdie gholfdag ‘n ongelooflike groot sukses. Grain Care bedank graag al die donateurs en gholfspelers vir hul bydraes om sodoende ‘n verskil te maak deur hierdie spesiale projekte wat fokus op kinders in nood.”

Sharon Booysen, Annelie Davis en Adri Jansen van Vuuren van Monument Toyota Randfontein.

Grain Care se geskiedenis

Grain Care Trust het in 2007 ontstaan uit die maatskappye Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics. Themba Trans het intussen ook betrokke geraak. Hierdie maatskappye fokus op ‘n wye spektrum graanverwante diente, asook die vervoer van graan en ander bedrywe.

Dit was en bly ‘n groot droom en dankbaarheidsgebaar aan hul Hemelse Vader om in die graanbedryf en vervoerbedryf ‘n liefdadigheidsprojek te laat funksioneer as ‘n eie identiteit. Hulle wil ‘n verskil maak – in ‘n kinderhart, vir ‘n bejaarde, die gesin, die honger persoon – vir dié wat in nood verkeer.

Grain Care Trust is dus die liefdadigheidsbeen van hierdie maatskappye.

Grain Care ontvang jaarliks ‘n donasie van hierdie maatskappye om die liefdadigheidsprojekte te kan bedryf.

Andries Vermeulen, die seremoniemeester en afslaer saam met die sanger Nadine. Foto ingestuur.

Geregistreerde NPO/ Artikel 18(A)-belastingsvoordeel

Grain Care Trust is by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as ‘n organisasie sonder winsmotief (‘NPO’) geregistreer, asook by die Ontvanger van Inkomste vir artikel 18A-belastingstatus. Dit stel skenkers in staat om belastingaftrekkings te kry vir hul skenkings.

‘n Totaal van 112 gholfspelers was betrokke by die fondsinsamelingsdag. Foto: Clinton Botha.

Hulle wil ‘n verskil maak waar daar nood is

As gevolg van soveel nood is Grain Care ook genoodsaak om fondse in te samel om ‘n verskil te maak in die lewensgehalte van mense in nood – dus kan almal saam ‘n verskil maak. Grain Care bied jaarliks sulke fondsinsamelingsgeleenthede.

Gholfdae word in Gauteng en in die Kaap vir hierdie doel gehou.

Duan Jansen van Volvo – die hoofborg. Foto ingestuur.

Wat gebeur met die donasies?

Grain Care verleen hulp deur middel van tussen 80 en 90 projekte per jaar. Die donasies (hetsy geld of voedsel) word vir ‘n wye spektrum projekte gebruik:
• Kinders in nood/ Kinderhuise/ Babas
• Mense met gestremdhede (fisies en psigies)
• Gesinne in nood (veral om in hul basiese behoeftes te voorsien)
• Behoeftige skole en kerke
• Mediese nood
• Bejaardes
• Hawelose gesinne
• Kersfeesprojekte, veral in arm gemeenskappe en kinderhuise

Stephan Hattingh, Jako Coetzee, Jan Carel Wolhuter en Johannes Naude. Foto ingestuur.
Fanus Anderson, Bernardt Blom en Reese Lingerfelder. Foto ingestuur.
Marnus van der Merwe van Mapogo.

Related Articles

Back to top button