Local newsNews

Plaaslike dominee ook ‘n bekroonde digter

Van sy gedigte word tans in die Groen Galery by die Afrikaanse Taalmonument in Paarl saam met dié van Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker uitgestal.

Hy is ‘n dominee by Lewende Kerk, maar ook ‘n briljante digter wat onlangs deur die Padlangs Skrywersgroep aangewys is as Digter van die Jaar.

Van die 42-jarige Johan van der Merwe se gedigte word tans in die Groen Galery by die Afrikaanse Taalmonument in Paarl saam met dié van Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker uitgestal nadat hy algeheel vierde in die land geëindig het uit omtrent 8 000 inskrywings vir die INK Skryf in Afrikaans se 2021 Skrywerskompetisie.

My eerste gedig het ek geskryf toe ek tien was, maar ek het ernstig begin skryf op universiteit. Dit was onder Marlene van Niekerk se mentorskap dat ek ‘n klein bietjie anders begin dink het oor gedigte, en daar het ‘n verandering gekom in my skryfstyl.”

Hy het verduidelik dat hy glad nie hoofletters of leestekens in sy gedigte gebruik nie.

Johan het ook sy eie skrywersblad Taal van my hart op Facebook waar hy sy gedigte plaas. Hy het vertel dat dit vir hom vreemd was om hierdie toekennings te wen omdat daar soveel digtersblaaie en digterskompetisies is.

“Daar is baie mense wat skryf vir die prys, maar vir my is die prys om te skryf. Ek word die rebel van die skrywersgroep genoem want ek volg nie die reëls van skryf nie,” het hy verduidelik.

Volgens Johan skryf hy uit die hart uit en oor hoe hy voel. “My gedigte bevat baie neologismes daarom het mense dikwels geen benul wat ek skryf nie, maar ek hou daarvan as mense uitreik en vra wat my werk beteken. Ek skryf met ‘n boodskap en ek skryf dit so dat dit vry is vir die leser se interpretasie.”

Sy grootste wens is om van gedigte skryf ‘n beroep te kan maak.

Related Articles

Back to top button