Local newsNews

Aanlynspeletjies gee hom vryheid

Jong man wat aan 'n skaars siekte ly, kon deur middel van sy PlayStation met die buitewêreld kommunikeer en maats maak.

Danksy die internet en sy PlayStation-konsole het ‘n plaaslike inwoner die kans gehad om mense in die buitewêreld te ontmoet al is hy tot die huis beperk.

Nico Bekker, 42, ly aan spinoserebellêre atrofie, ‘n baie skaars siekte wat sy motoriese vaardighede affekteer.

Sy ma, Estelle Bekker het verduidelik dat die siekte die kleinbrein laat wegkrimp wat gevolglik al die motoriese bewegings soos loop en praat aantas.

“Hy was in die skool vir dowes en ‘n goeie atleet, maar toe begin hy onverklaarbaar struikel wanneer hy hardloop.”

Toe Nico begin tremors kry het sy skool hulle aangeraai om ‘n neuroloog te raadpleeg.

“Hy is op sewejarige ouderdom met hierdie siekte gediagnoseer, en was toe net een van drie kinders in die wêreld wat daaraan gely het.”

Estelle het vertel dat hoewel haar seun kan praat, kan hy nie die woorde duidelik uitspreek nie en homself dus nie behoorlik uitdruk nie.

Dokters het destyds voorspel dat Nico nie ouer as tien sou word nie, maar hy het hulle verkeerd bewys.

Daardie kind het soveel uithouvermoë. Hy wil nie toelaat dat ek iets vir hom doen nie; hy maak sy eie bed op en maak sy eie kamer skoon. Al sukkel hy om te loop bly hy so aktief moontlik en doen alles steeds vir homself.”

Sy het verduidelik Nico reeds toe hy drie was kon lippe lees aangesien hy toe al doof was en hulle dit nie besef het nie. Sy boetie was die eerste een om dit raak te sien.

“Nadat hy vir my gesê het dat Nico my nie kon hoor nie, het ek begin oplet en gesien dat hy altyd vir my gekyk het as ek praat, en kon dus opdragte uitvoer deur lippe te lees.”

Nico was in die Wesrandse Skool tot hy 17 was, en is sedertdien tuis.

Sy ma het verduidelik dat sy denkvermoë glad nie aangetas is nie, net sy fisiese vermoëns.

‘n Paar jaar gelede het Nico sy PlayStation 4 gekry, en sy suster het hulle onlangs van aanlynspeletjies vertel, wat dit vir Nico moontlik gemaak het om kontak met ander mense te maak. Danksy sy gehoorstukke wat aan die televisie en sy foon gekoppel kan word kon hy so met mense praat en met hulle speletjies speel.

“So kon hy vir die eerste keer met die buitewêreld kommunikeer en maats maak.”

So ‘n maand gelede het Nico sy wagwoord vir sy PlayStation vergeet en hulle het dit na iemand toe geneem om hulle daarmee te help. Toe hulle dit toestel terugkry, was daar meer probleme as voorheen – dit het glad nie meer gewerk nie, en volgens haar wil die mense wat daaraan gewerk het, nie erken dat iets by hulle fout gegaan het nie.

Nico is dus vir die afgelope maand reeds sonder die toestel wat hom die vryheid gee om met mense in die buitewêreld te kommunikeer.

As daar dalk iemand is wat hulle oor Nico kan ontferm, kontak asseblief vir Estelle by 076 968 7036.

Related Articles

Back to top button