Anna is 92, maar steeds lus vir die lewe

'Ek weet nie hoe 'n mens voel op hierdie ouderdom nie' het sy vertel.

‘n Plaaslike inwoner se ouderdom is vir haar net ‘n getal en keer haar nie om die dinge te doen waarvoor sy lief is nie.

Die 92-jarige Anna van Niekerk is op 16 Julie 1929 gebore en sy het vertel dat sy party dae nie kan glo dat sy so oud is nie.

Ek weet nie hoe voel ‘n mens op hierdie ouderdom nie en elke dag is ‘n uitdaging. Ek gaan net elke dag aan.”

Sy het vertel dat sy in haar jonger dae baie sportief was. Sy het aan naellope, gewigstoot, hoogspring en netbal deelgeneem, en sy was elke jaar die victrix ludorum in atletiek.

“Ek speel van 2004 af rolbal om fiks te bly en omdat ek dit baie geniet,” het sy vertel.

Volgens Anna gaan ‘n mens se vaardigheid op haar ouderdom ‘n bietjie verlore maar sy hou steeds aan om dinge te doen waarvoor sy lief is. Sy spandeer baie van haar tyd daaraan om tuin te maak, konfyt te kook, te bak en ook om haar eie klere te maak, iets waarvoor sy baie lief is.

Op 92 jaar oud is Anna van Niekerk steeds lief vir tuinmaak. Foto: Michelle Roodt.

Ek glo dat as jy gaan stilsit gaan dit nie werk nie, veral nie as jy heeldag televisie kyk nie.”

Sy het vertel dat haar gesondheid tans baie goed is, al is daar ‘n paar skete soos ‘n mens se spiere wat verswak soos wat jy ouer word.

Anna is ook ‘n trotse ouma en oumagrootjie wat spog met vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

“Alles wat al gebeur het voel vir my soos ‘n gedagte, totdat ek mooi gaan sit en dink aan die oomblik. Ek moet sê ek is baie gelukkig.”

Exit mobile version