Local newsNews

Plaaslike suster ontvang die Nurse of the year-toekenning

Klinieksuster by The Local Choice Pharmacy in Randgate, Rianie Grovè het onlangs Die Local Choice-apteekgroep se Nurse of the Year-toekenning ontvang.

‘n Vrou met ‘n omgeehart en ‘n passie om mense te help het onlangs ‘n baie besonderse toekenning ontvang.

Die Local Choice-apteekgroep se Nurse of the year-toekenning is aan Rianie Grové, ‘n klinieksuster by The Local Choice Pharmacy in Randgate gedoen.

Die 44-jarige klinieksuster het vertel dat sy baie verbaas was dat sy dié toekenning ontvang het.

“Ek het nie eers geweet die toekenning bestaan nie en dit laat my regtig nederig voel om erken te word vir iets wat ek elke dag met liefde doen.”

Sy het vertel dat om soggens op te staan en te weet sy gaan daardie dag ‘n verskil maak, maak dit lekker om die toekenning te kry en te weet dat mense dit raaksien.

Rianie het 14 jaar terug by die Randgate-apteek begin werk. In 2018 het sy by ‘n ander maatskappy begin werk, maar is sedert 2020 weer terug in Randgate.

Vir Rianie gaan haar werk oor die mense, om in mense se diens te staan, om ‘n verskil te maak en daar te wees vir ander.

Om ‘n klinieksuster te wees beteken jy werk letterlik met mense op ‘n basiese vlak van gesondheid. Mense kom soms na jou toe omdat hulle regtig nie weet waarheen anders om te gaan nie, en het raad en bystand nodig.”

Volgens Rianie moet jy daar wees vir die gemeenskap en weet wat in die gemeenskap aangaan.

“Daar is so ‘n verskeidenheid mense wat daagliks by jou deur instap, elkeen met hul eie verwagtinge van jou. Hulle het jou nodig en dit is die belangrikste.”

Die mense en die span saam met wie sy werk maak haar werk vir haar lekker.

“Suster Babalwa Ntsepo is regtig ‘n ongelooflike kollega; ek spot altyd en sê ons werk soos ‘n masjien saam. Die ondersteuning, die span wat by Randgate-apteek werk is soos familie, die mense en pasiënte, die verskil wat jy somtyds sien wat jy maak, dit is die belangrikste goed. Net om die moed te hê om te doen wat ‘n mens doen, dit is wat dit lekker maak,” het Rianie vertel.

Related Articles

Back to top button