BRIEF: Perfekte storm in kragvoorsiening: Maak eerder self planne; vanself gaan dit nie regkom nie

'Kragverbruikers wat die vernietigende uitwerking van hierdie krisis wil afweer, sal hul eie planne moet maak' – Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Minerale hulpbronne en energie.

• Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Minerale hulpbronne en energie skryf:

Al die elemente vir ‘n omvattende krisis in kragvoorsiening is tans teenwoordig. Wie dit wil vryspring, sal self planne moet maak.

Lees ook: Load shedding until March 14: Nine ways to protect your property

Dat Eskom se opwekkingseenhede oud is en soms uit die bloute onklaar raak, is ou nuus. Dieselfde geld vir eenhede wat vir noodsaaklike en agterstallige onderhoud onttrek moet word.

Oor die afgelope weke het die onvoorspelbare uitwerking van die Oos-Europese oorlog deel van die vergelyking geword. Ru-oliepryse het geweldig gestyg, met die gevolglike styging in dieselpryse wat noodwendig sal volg. Dié toestand mag nog maande voortduur, of vrede mag binne dae gesluit word – die onvoorspelbaarheid vererger die krisis.

Die belang van dieselpryse vir elektrisiteitsvoorsiening is dat oopsiklus-dieselkragopwekkers die enigste tegnologie is wat op kort kennisgewing aangeskakel kan word om die uitwerking van piekverbruik of onvoorsiene brekasies te verlig. Dit kan eenvoudig onbekostigbaar raak.

Eskom waarsku reeds dat fase 7 beurtkrag moontlik is.

Finansiering is tans nog ‘n hindernis. Doelgemaakte oplossings, soortgelyk aan voertuigfinansiering behoort deur banke ontwerp te word. ‘n Aanleg vir eie kragvoorsiening is ‘n roerende bate wat eienaars daarvan geld sal spaar. Munisipaliteite kan betrokke raak deur betalingsgeskiedenis van verbruikers na te gaan en afbetaling wat maandeliks as deel van diensterekeninge ingesamel word.

Kragverbruikers wat die vernietigende uitwerking van hierdie krisis wil afweer, sal hul eie planne moet maak. Die prys van sonpanele en rugsteunbatterye moet nie meer met munisipale kragtariewe vergelyk word nie, maar met die skade van langdurige en gereelde kragonderbrekings.

Wat tans gebeur, is dat internasionale skommelings die staat se leemtes vermenigvuldig. Burgers is dus genoodsaak om hulself daarteen te beskerm, ongeag of hulle dink dat dit hul verantwoordelikheid behoort te wees of nie.

Exit mobile version