Local newsNews

‘Hoërskool Jan Viljoen-kwessie moet met omsigtigheid hanteer word’

Die totale chaos by Hoërskool Jan Viljoen op Maandag, 14 Februarie was 'n dag wat almal in Randfontein en omstreke liewer sou wou vergeet – indien hoegenaamd moontlik. Die vraag nou is, wat hou die toekoms in?

Daar was totale chaos by Hoërskool Jan Viljoen op Maandag, 14 Februarie toe talle gemeenskapslede probeer het om hul stemme te laat hoor.

Dit het gevolg op bewerings dat daar ‘n insident van rassisme die vorige Vrydag, 11 Februarie by die skool was.

Lees meer hier: Hoërskool Jan Viljoen chaos: Allegations of racism and sexual harassment

Lede van die polisie, sekuriteitsmaatskappye en ander privaatmaatskappye was Maandagoggend by die skool om seker te maak dat die situasie nie hand uitruk nie, en joernaliste van verskillende mediahuise het met verskeie mense onderhoude gevoer.

‘n Aantal leerders wat reeds binne die skoolgronde was, het hul stemme by dié van die protesgangers buite begin voeg, en dit het gelyk of die mense wat buite saamgedrom het, die skoolhekke gaan afbreek.

Die EFF teken protes aan. Foto: Michelle Roodt.

Terwyl die polisie die skare met skokgranate uitmekaar gejaag het en die leerders op die skoolterrein met waterkanonne gepeper het, was daar diegene wat hulle tot die Hoër Hand gewend het en op hul knieë om vrede en kalmte gesmeek het.

Die protesgangers het selfs in die Randfonteinse-middedorp brande in die strate verbrand en asblikke omgekeer. Dit was ‘n dag wat almal in Randfontein en omstreke liewer sou wou vergeet – indien hoegenaamd moontlik.

Die vraag nou is, wat hou die toekoms in?

Brandende bande versper die straat. Foto: Michelle Roodt.

Die Herald het ‘n aantal omstanders om kommentaar genader, maar nie almal wou met die media praat nie.

“Ons is hier vandag om die skool te beskerm, nie net die skool nie maar ook al die kinders binne die skool. Alles wat hier gebeur is onnodig. Natuurlik is die emosies baie hoog hier vandag maar as mens die beste oplossing kan vind en die ouers kan oorreed om te sit en praat en die ding uitsorteer dan is niks van hierdie goed nodig nie.

Die nommer een-prioriteit is om die kinders veilig te hou binne die skool, en dat niks van die eiendom hier beskadig word nie,” het Devon Hofmeyr van die Bittereinders vertel.

Polisie hou ‘n oog oor die situasie. Foto: Michelle Roodt.

“As ouers wie se kinders in die skool is, maak nie saak watter ras nie, wil ons weet wat die skool gaan doen om ons kinders veilig te hou teen die moeilikheidmakers in die skool, want kinders word aanhoudend geskors en dan kom hulle net weer terug. Daar is altyd drama met ‘n spesifieke groep kinders en daardie kinders is nou nog in hierdie skool.

Ons kinders moet terugkom, eksamen skryf, klaarmaak in hierdie skool en hulle kan nie eers hier inkom nie. Dit is hoekom ons hier is, ons wil weet wat gaan hulle doen om ons kinders se veiligheid te verseker,” het ‘n bekommerde ma vertel.

Die Gautengse Departement van Onderwys het na LUR Panyaza Lesufi se besoek aan Hoërskool Jan Viljoen Maandagoggend 14 Februarie aangekondig dat daar verskeie stappe by die skool gedoen sal word. Die bewerings van rassisme sal ondersoek word en ‘n personeellid wat in ‘n beheerliggaampos aangestel is, sal as voorsorgmaatreël geskors word.

Polisielede is gereed vir enige gebeurlikheid. Foto: Michelle Roodt.

Die VF Plus het intussen die Departement en die LUR gemaan om die Hoërskool Jan Viljoen-kwessie en die beskuldigings van rassisme met omsigtigheid te hanteer en nie ‘n heksejag op ‘n bepaalde deel van die skoolgemeenskap en hul kinders te loods nie.

“Die situasie kan net na behore beoordeel word nadat alle feite ingewin is en nadat alle rolspelers en belanghebbers hul saak gestel het. Lesufi en die Departement moet veral neutraal optree in die belang van alle leerders en skoolgemeenskappe,” het advokaat Anton Alberts, die VF Plus se nasionale voorsitter en LPW: Gauteng gesê.

Die VF Plus spreek sy kommer uit oor die hantering van die kwessie juis weens die onoordeelkundige en roekelose wyse waarop Lesufi en sy Departement die Hoërskool Overvaal-kwessie hanteer het wat tot groot opstande en onrus gelei het, gegrond was op leuens en bedrog vanuit die Departement van Onderwys. Die hooggeregshof en die konstitusionele hof het Lesufi en sy departement se optrede gerepudieer.

“Tydens ‘n gesprek op die WhatsApp-groep van die Gauteng-wetgewer se onderwyskomitee, het verskeie ANC-wetgewerlede (LPW’s) reeds die wit skoolgemeenskap veroordeel. Die VF Plus het die LPW’s gewys op die groteske foute wat Lesufi by Hoërskool Overvaal gemaak het en dat almal by regsake betrek kan word.

‘n Nyala-onlustevoertuig op die toneel. Foto: Michelle Roodt.

“Dit is LPW’s se plig om neutraal te bly en nie enige oordele vooruit te loop nie, aangesien daar regsimplikasies kan wees teen LPW’s wat verkeerde aannames maak indien negatiewe gevolge daaruit sou vloei teen onskuldige persone.

“Die VF Plus sal die ondersoek na die gebeure by Hoërskool Jan Viljoen monitor en sal self ondersoek instel na die feite sodat daar in belang van al die leerders opgetree word.”

Gemeenskapslede teken protes aan voor die skool. Foto: Michelle Roodt.

Related Articles

Back to top button