Blikskud-fondsinsameling vir Riebeeckrand-netbaldogters

Die dogters het geld ingesamel vir 'n netbalkursus later vanjaar.

Die eerstenetbalspan van Hoërskool Riebeeckrand het op Saterdag, 29 Januarie ‘n blikskud in Homelake gehou om fondse in te samel vir ‘n netbalkursus later vanjaar.

Eerstenetbalspanafrigter Suzanne Tiedt het verduidelik dat die dogters almal ‘n netbalkursus by Zwartkloof Natuurreservaat anderkant Bela-Bela gaan bywoon wat deur doktor Elsje Jordaan, ‘n voormalige Proteaspeler en -afrigter aangebied gaan word.

“Ons het besluit om die blikskud-fondsinsameling te hou omdat baie ouers finansieel sukkel en ons die las vir hulle wil ligter maak. Ons wil ook graag aan die spelers alle geleenthede bied wat ons kan,” het Suzanne verduidelik.

Sy het vertel dat dit vir party dogters ‘n ongemaklike ervaring was maar ander het dit geniet.

Suzanne het verduidelik dat dit die dogters leer om uit hul gemaksone te tree sodat hulle dit ook later in hul lewens sal kan doen.

“Die motoriste was ongelooflik vrygewig en het mildelik bygedra tot ons doel. Ons as span en Hoërskool Riebeeckrand sê graag weereens baie dankie vir elkeen se positiewe bydrae. Die geld maak werklik die las ligter vir elke speler en haar ouerhuis.”

Exit mobile version