NewsSchools

Jannas se ondersteuning help hom matriek slaag

Wesley van Niekerk, 'n oudleerder van Jan Viljoen is nie net trots op homself omdat hy matriek geslaag het nie maar ook omdat hy universiteitsvrystelling gekry het – iets waarvoor hy hard gewerk het. Die Herald het met hom gaan gesels. .

Wesley van Niekerk het onlangs met die Herald gesels en vertel van sy matriekjaar by Jannas, hoe hy oor sy uitslae voel en wat volgende vir hom op sy lewensreis is.

Die 18-jarige het gemengde gevoelens oor die hele situasie.

“Ek is opgewonde oor die nuwe hoofstuk wat vir my wag maar ek is terselfdertyd hartseer dat ek totsiens moet sê vir vyf jaar se herinneringe en die mense wat ek ontmoet het. Maar, soos die gesegde lui ‘alle goeie dinge moet op ‘n einde kom’,” het hy vertel.

Wesley het bygevoeg dat hy nie net trots is op homself omdat hy matriek geslaag het nie maar ook omdat hy universiteitsvrystelling gekry het – iets waarvoor hy hard gewerk het.

“Ek het hard gewerk en die vrugte daarvan gepluk. Ek begin dié jaar onderwys studeer om eendag die beste onderwyser moontlik te wees vir my toekomstige leerders. Dit is my roeping en hartsbegeerte om eendag ‘n verskil te kan maak.”

Terwyl hy studeer gaan Wesley ook as ‘n kelner by Su Casa, ‘n Portugese restaurant werk.

“My matriekjaar was moeilik, maklik, stresvol, regtig ‘n bietjie van alles, maar met die ondersteuning van familie, vriende en ‘n ongelooflike skool het ek kop bo water gehou … Jan Viljoen was elke tree van die pad saam met my!”

Wesley het van skoolgaan gehou en dit was vir hom lekker om elke dag in te stap waar hy gevoel het dat hy deel van ‘n familie was. Sy gunstelingvak was Toerisme en hy het verduidelik dat Juffrou Bianca Button die vak ‘n belewenis gemaak het.

“Vir die matrikulante van 2022 wil ek sê geniet elke oomblik want die jaar gaan in ‘n oogwink verbyvlieg! Jy lewe net eenkeer, wees jouself en weet dat jy genoeg is want jy het ‘n doel en jy maak saak! Begin ook asseblief vroegtydig voorberei vir julle eksamens.”

Hy wens elke matriekleerder van 2022 net die beste toe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button