Local newsNews

Oudweermaglid se tuisgemaakte produkte is baie gewild

Johannes Swart wat by Helikonpark Pick n Pay sit en gebottelde produkte verkoop is al vir baie 'n bekende figuur.

Oom Johannes Swart wat by Helikonpark Pick n Pay sit en gebottelde produkte verkoop is al vir baie ‘n bekende figuur.

Johannes Swart, 63, verkoop die produkte al sedert 2011 toe hulle nog in Vereeniging gebly het.

Hy het vertel dat hy en sy verloofde Hester net ‘n SASSA-toelae kry.

“Dis nie baie nie daarom moet ons hierdie goed verkoop om aan die lewe te bly, kos te koop en huur te betaal.”

Johannes-hulle maak alle soorte vars produkte in wat hulle in die hande kan kry.

Hulle verkoop onder andere kerriebone, rissieblatjang, appelkoosblatjang, snipperkonfyt, tamatiekonfyt en koekies, en hy het vertel dat die mense mal is daarvoor.

Ons bly nie voor met die tamatieblatjang en kerriebone nie.”

Johannes het vir die Herald vertel dat hy van 1977 tot 1978 ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Weermag was.

“Ons was op die Angolese grens, en ook ‘n paar keer in Angola in vir Operasie Smokeshell. Ons moes gaan help om die lyke in sakke te sit en terug te stuur. In 2017 het ek erg aan posttraumatiese stresversteuring begin ly en in 2018 het ek my been as gevolg van diabetes verloor.”

Johannes Swart met ‘n paar van die gebottelde produkte wat hy daagliks verkoop. Foto: Michelle Roodt.

Hy het vertel dat toe hy tydens grensdiens probleme met sy voete ervaar het, hy na die kombuis oorgeplaas is.

Dit is waar my liefde vir kook begin het. Ek het gehelp met skil en sny, en help koekies aanmaak.”

Die SA Weermag Infanterie-groep het onlangs vir Johannes kom ondersteun met sy produkte en wil hom selfs stuur om sy been te laat meet sodat hy ‘n kunsbeen kan kry. Hulle probeer ook vir hom ‘n rolstoel kry.

“Ek is baie, baie dankbaar. Ons het nou ‘n probleem want ons is amper uitverkoop, maar ons is reeds besig om nog goed te maak.”

Hulle bottels raak ook min en hy het gevra dat mense leë glasbottels vir hom sal bring sodat hulle dit kan gebruik vir hul produkte.

Johannes is by die Helikonpark Pick n Pay van Maandae tot Vrydae van 13:30 af, en Saterdae en Sondae van 10:00 af.

Vir bestellings, kontak Johannes by 069 363 5354.

Related Articles

Back to top button