Dit was ‘n baie gesellige dag by die Randfontein Rugbyklub toe talle voormalige rugbyspelers van die klub bymekaar gekom het vir ‘n braai.
Die braai op Woensdag, 24 November was ‘n kans vir die oudklubspelers om nuus uit te ruil en lekker saam te kuier.
Rudy van Rensburg, een van die organiseerders het vertel dat die byeenkoms gegaan het oor al die ourugbyspelers wat vir die Randfontein-rugbyklub gespeel het.
“Dit word tyd vir ons om hulle te eer, te respekteer en vir hulle ‘n kans te gee om net weereens bymekaar te kom en mekaar se geselskap te geniet, want die lewe met die virus was so ongemaklik en onaangenaam dat dit nou weer tyd is dat ons saamkuier.”
Hy het vertel dat baie van hulle vriende nie meer met hulle is nie.
“Dit is hoekom ons vandag gereël het, om net weer ‘n ordentlike en lekker samekoms vir die Randfontein Rugbyklub se ouens te hê en vir hulle dankie te sê vir dit wat hulle vir die dorp se rugby gedoen het.”
Die mans het baie lekker saam gekuier en daar was boonop iets vir die keel.
Daar was ook die lieflike geur van potjiekos, ‘n vark op die spit en heerlike biltong om aan te peusel wat geborg is deur JKS Deli terwyl die mans lekker buite gesit en gekuier het.