CrimeNewsOpinion

BRIEF: R100 vir kankermedisyne … Aikôna!

Dit wil voorkom of twee vroue in Randfontein leuens vertel om geld uit mense te kry.

• Zelda De Kock skryf:

Ek skryf vir die blonde- en bruinkopdames wat met ‘n wit Tata ry. Jul toneelspel van Woensdag, 10 November was uitmuntend. Staan by die begraafplaas en gee voor daar is iets fout met die kar. My man wat nog omgee vir sy medemens, stop en vra wat fout is en of hy kan help. Blondekop begin onmiddellik met haar toneelspel. Hulle staan glo sonder petrol en moet in Krugersdorp kom om haar ma wat kanker het se medisyne te gaan haal.

Kan my man haar nie uithelp met ‘n paar rand nie? My man, wat dit self nie breed het nie nadat die grendeltyd ons almal met ‘n gat in die sak gelos het, vra haar na sy met haar supernetjiese voorkoms belowe het dat sy dit later in sy rekening sal terugbetaal, hoeveel sy nodig het.

Die gevaarligte moes al begin flikker het, want skielik het sy nie genoeg om vir haar ‘siek ma’ se medisyne ook te betaal nie, maar R200 tot die aand sal doen.

Dan kan sy petrol ingooi en medikasie kry. Sy volg hom nog ewe garage toe, gooi R50 in. Hy gaan trek die swaarverdiende geld en gee dit vir haar. Met die ‘dankbaarste hart’ bedank sy hom en sweer sodra haar man by die huis kom sal sy dat hy dit oorbetaal aan my man.

Wel dit is meer as 24 uur later … Jy is gevang vir ‘n sucker, my man. Hoor toe by nog mense dat dit ‘n ou ding van die twee dames in die wit Tata is. Is al by die skool opgemerk waar hulle ook R200 gevra het.

Goeie inkomste … 200 x 5 slagoffers ‘n dag is R1 000. As hulle net vyf dae ‘n week ‘werk’ gee dit R20 000 per maand met naweke af. Hoop julle moeders sien nie hoe daar met hulle gesondheid gedobbel word nie.

Herald-joernalis Michelle Roodt het vertel dat sy ook al met die bedrieër te doen gekry het:

“Op pad terug kantoor toe na ‘n afspraak hou ek by die vierrigtingstop by die Greenhills Stadion in Noordweg stil. ‘n Blondekopvrou wie se wit Tata onder die boom geparkeer was, waai toe vir my.

Omdat ek ‘n joernalis is wat altyd help waar ek kan omdat dit deel is van my werk het toe afgetrek want sy het paniekerig gelyk. Met my venster op ‘n skrefie oop vra ek haar toe wat fout is.

Sy bedank my omdat ek die enigste een is wat daar gestop het om te help en vertel dat haar ma met kanker in ‘n hospitaal in Krugersdorp is en dat sy net R100 nodig het vir haar medikasie. Met haar foon in haar hand vertel sy dat haar man tans by die werk is maar dat hulle die geld teen sesuur die aand in my rekening sal inbetaal. Ek het geen kontant by my gehad nie en het toe gery.

Dit was vir my ‘n vreemde situasie want die vrou was baie netjies aangetrek.”

Related Articles

Back to top button