By Laerskool Randfontein is padveiligheid belangrik en deesdae probeer hulle ‘n kultuur van padveiligheidsbewustheid onder leerders kweek.
Hulle het tans 28 leerders wat deel vorm van hul padpatrollie onder die leiding van onderwysers Hansen Pretorius en Grace Labuschagne.
“Die leerders ondergaan streng opleiding en moet baie opofferings maak. Daar word elke oggend vanaf 06:45 en elke middag tot 14:15 diens gedoen by die voetoorgange,” het skoolwoordvoerder Annie Nolan verduidelik.
Sy het vertel dat die leerders in uiterste weersomstandighede staan – hitte, reën, wind en koue.
“Dit is ‘n ware, onselfsugtige diens wat hulle aan die gemeenskap van Rammies lewer.”
Annie het gesê dat die hoof en bestuur baie dankbaar en trots is op hul padpatrollie van 2021, en dat die groep leerders puik is en ‘n baie goeie diens gelewer het. Ram poog ook om dit die norm te maak onder hul leerders.
“Ons wil asseblief die publiek vra wat naby die skool verby ry om bewus te wees van die leerders en die tye wat die skool begin en uitkom. Baie van die leerders is klein en kan nie maklik voor ‘n voertuig gesien word nie. Ry eerder stadiger en wees rustig want ongeduld gaan lewens kos,” het Annie gevra.