NewsSchools

Motoriste gevra om Ram-padpatrollie te respekteer

Daar is 28 Ram-leerders wat soggens en smiddae sorg dat die ander leerders die pad veilig kruis.

By Laerskool Randfontein is padveiligheid belangrik en deesdae probeer hulle ‘n kultuur van padveiligheidsbewustheid onder leerders kweek.

Hulle het tans 28 leerders wat deel vorm van hul padpatrollie onder die leiding van onderwysers Hansen Pretorius en Grace Labuschagne.

Zinelle Smith en Francois Strydom. Foto: Annie Nolan.

“Die leerders ondergaan streng opleiding en moet baie opofferings maak. Daar word elke oggend vanaf 06:45 en elke middag tot 14:15 diens gedoen by die voetoorgange,” het skoolwoordvoerder Annie Nolan verduidelik.

Sy het vertel dat die leerders in uiterste weersomstandighede staan – hitte, reën, wind en koue.

“Dit is ‘n ware, onselfsugtige diens wat hulle aan die gemeenskap van Rammies lewer.”

Annie het gesê dat die hoof en bestuur baie dankbaar en trots is op hul padpatrollie van 2021, en dat die groep leerders puik is en ‘n baie goeie diens gelewer het. Ram poog ook om dit die norm te maak onder hul leerders.

Die skool se padpatrollie in aksie. Foto: Annie Nolan.

“Ons wil asseblief die publiek vra wat naby die skool verby ry om bewus te wees van die leerders en die tye wat die skool begin en uitkom. Baie van die leerders is klein en kan nie maklik voor ‘n voertuig gesien word nie. Ry eerder stadiger en wees rustig want ongeduld gaan lewens kos,” het Annie gevra.

Related Articles

Back to top button