[Videos] Speed-dating-stigter sê haar sê

Alet het verduidelik daar daar 'n mark is vir mans en vrouens wanneer dit kom by die idee van speed-dating.

Talle in Randfontein het reeds die video’s op sosiale media gesien van Alet van Zyl-Potgieter en haar Speed-dating-plan.

Dit is eenvouding … sy wil hê mense moet mekaar weer ontmoet soos in die ou dae – van aangesig tot aangesig.

Alet het met die Herald gesels oor hoe die idee ontstaan het.

Die 49-jarige Alet beskou haarself as plat op die aarde. Sy is nie net ‘n mooi gesig nie maar voer graag intellektuele gesprekke. “Mense dra deesdae maskers op sosiale media maar jou masker is nie noodwendig wie jy is nie. Ons almal het onsekerhede en niemand is volmaak nie, dit is juis die punt. Wees wie jy wil wees en nie wat die samelewing verwag jy moet wees nie, want wie bepaal die norm?”

Sy het die vraag gevra hoe mens iemand ontmoet as jy nie uit jou gemaksone kom nie.

Alet van Zyl-Potgieter is deesdae bekend op sosiale media. Foto: Michelle Roodt.

“Die perfekte persoon gaan nie net opdaag en sê ‘hier is ek’ nie. Ek het met die Buffalo Ranch oor die idee gesels want hulle is die ideale platform, en ons hou boonop die rand in Randfontein. Ek het gaan luister na wat mense sê omdat dinge vandag anders gedoen word as in die verlede, en sommige mense pas nie aan by vandag se dinge nie.”

Alet het verduidelik dat daar ‘n mark vir mans en vroue in Speed-dating is.

“Ek het gedink om die water te toets en toe werk dit. Daar is niemand beter wat die woordvoerder kan wees nie. Ek bly al soveel jare in Randfontein en het aan die Mej Skou deelgeneem – I’ve earned my stripes.”

Sy het vertel dat mense meer waaghalsig moet wees en dit is waaroor alles gaan.

Volgens Alet beplan hulle dat mense by tafels gaan sit en omdat nie almal ekstroverte is nie, gaan hulle ‘n opsionele vraelys op elke tafel plaas omdat dit aanvanklik nogal ongemaklik kan wees.

“Ons probeer so die stilte vermy want 10 minute kan vir jou óf lank óf kort wees. Dit is ook jou keuse want mens kliek met iemand, of nie. Daar gaan na die tyd ‘n dans wees sodat dié wat wil, verder kan kuier.”

Sy het vertel dat sy nie van kroeë hou nie, want jy kan dalk iemand daar ontmoet wat getroud is.

Volgens Alet is sosiale media ook nie die plek om mense te ontmoet nie omdat jy nooit regtig weet met wie jy praat nie.

“Dit is tyd om terug te gaan na hoe dinge in die verlede gedoen is – van aangesig tot aangesig.”

In haar video’s op sosiale media verwys sy altyd na ‘skêr-mense’. Sy het verduidelik dat ‘n skêr-mens ‘n kansvatter is, of dit as ‘n grap beskou om moeilikheid te maak.

“Ons wil nie sulke mense by die Speed-dating hê nie. Die wat daar is moet ernstig oor die saak en verhoudings wees.”

Die Speed-dating-geleentheid sal hopelik op 16 Desember gehou word. Niemand jonger as 35 jaar word toegelaat nie. Die geld gaan ook natuurlik vir ‘n goeie doel.

“Die fondse wat ingesamel word gaan vir Vriendskaptuiste omdat dit Kerstyd is.”

 

Exit mobile version