MunicipalNews

Ontmoet jou VF+ kandidaat Charmaine Schade

Om ons gemeenskap toe te laat om 'n ingeligte besluit te neem wanneer hulle op 1 November gaan stem nooi die Herald alle kandidate van enige party uit om hulself bekend te stel.

Charmaine Schade, 57, is ‘n Vryheidsfront Plus-kandidaat vir Wyk 9 wat Greenhills insluit.

1. Wat sal jy anders doen as jou voorganger?

Dit is belangrik om diensleweringsprobleme vinnig te identifiseer en ‘n aksieplan op te stel om die probleme op te los om te verhoed dat dit weer in die toekoms gebeur. Die VF Plus glo aan ‘n openbare deelname-proses en die noodsaak om inwoners te raadpleeg om die beste moontlike oplossings vir daardie spesifieke gemeenskap te vind. Wedersydse kommunikasie tussen ‘n verkose raadslid en die gemeenskap wat hy of sy dien, is vir my baie belangrik.

2. Indien jy verkies word op watter aangeleenthede sal jy fokus in jou wyk en hoekom?

Ek sal my toespits op volhoubare dienslewering, openbare deelname-prosesse en gemeenskapsontwikkeling om so ‘n veilige en skoon omgewing te help skep vir almal wat daar woon en werk.

3. Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?

Die welstand van inwoners in die omgewing waar ek woon is van kardinale belang. Belastingbetalers moet die dienste ontvang waarvoor hulle ten duurste betaal. Ek beywer my om die gemeenskap te motiveer om hul demokratiese regte uit te oefen en deel te neem aan openbare deelname-prosesse om so munisipale besluitneming wat hulle raak te beïnvloed. Ons kan nie langer op die kantlyn staan en sien hoe dienslewering en infrastruktuur in Krugersdorp verval nie.

4. Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid op welke ander maniere is jy betrokke in jou gemeenskap?

Ek is vir meer as tien jaar betrokke by welsynsorganisasies waar ek help omsien na minderbevoorregtes in Poortjie en Venterspos. Deur opheffingswerk probeer ek ‘n verskil maak in mense se lewens.

5. Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?

Ek het my eie sake-onderneming en woon in Jagfontein. Ek het in Randfontein skoolgegaan en uit die aard van my werk is ek terdeë bewus van die verval in Randfontein en Westonaria. As kandidaat vir die VF Plus kan ek ‘n verskil maak om as waghond op te tree teen wanbestuur, korrupsie, en onbevoegdheid, en verder my rol vervul as dinamiese gestruktureerde opposisie.

Related Articles

Back to top button