NewsSchools

Onderwysers: Leer, dissiplineer, luister en troos

#Wêreldonderwysersdag: Die Herald het met Yulanda Olivier, 55, 'n onderwyser van Laerskool Rapportryer gesels oor onderwys en alles wat daarmee gepaard gaan. Yulanda is tans 'n Graad 4 Wiskunde-onderwyser en is al 27 jaar in die beroep.

Onderwysers speel ‘n baie belangrike rol in kinders se lewens, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld.

‘n Onderwyser is ‘n waardevolle spesialis, volgens die Verenigde Nasies se aanbeveling rakende die status van onderwysers. Onderwysers is aan die voorpunt van pogings om onderwys weer op die herstelpad te kry, gegewe die impak wat die pandemie steeds op hierdie belangrike sektor het. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het juis beheerliggame en die skoolgemeenskap aangemoedig om Wêreldonderwysersdag op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal (15 Oktober) te vier.

“Vanjaar gee ons erkenning aan die vasberadenheid en ywer waarmee die wêreld se sowat 63 miljoen opvoeders sedert die begin van die pandemie hul werk aangepak het,” het waarnemende uitvoerende hoof van FEDSAS, doktor Jaco Deacon gesê.

In die lig van Wêreldonderwysersdag het die Herald met Yulanda Olivier, 55, ‘n onderwyser van Laerskool Rapportryer gesels oor onderwys en alles wat daarmee gepaard gaan. Yulanda is tans ‘n Graad 4 Wiskunde-onderwyser en is al 27 jaar in die beroep.

“Ek het nog altyd gesê, selfs van kleintyd af, dat ek ‘n onderwyser wou word.”

Volgens Yulanda het haar Graad 2-juffrou, wat ook vir haar pa skoolgegee het, haar geïnspireer om onderwys as beroep te kies.

“Sy is ‘n voorbeeld van hoe jy onderwys gee en wat jy alles vir ‘n kind doen. Ek het gesukkel om te lees en sy het my na skool geleer lees. Tot vandag toe is ek mal oor lees en ek glo dit is aan haar te danke.”

Skoolhou tydens ‘n pandemie het volgens Yulanda sy nadele, maar daar is ook baie voordele.

“Ons het net die helfte van die klas gehad, dus kon jy aandag aan elke kind gee. Die dissipline in die klas was baie beter omdat daar net 20 kinders was.”

Yulanda Olivier, ‘n onderwyser by Rappies. Foto: Michelle Roodt.

Hulle moes baie harder werk omdat hulle baie goed moes beplan. Hulle moes dubbele periodes se werk doen sodat die kinders werk gehad het om die volgende dag by die huis te kon doen. Yulanda het gesê die emosionele impak het begin toe die onderwysers begin siek word het – dit was toe die vrees gekom het.

“Al waaraan jy kon dink was of jy volgende is. Veral toe ons ‘n personeellid verloor het, het dit regtig ‘n groot invloed op ons skool gehad. Meer as die helfte van ons personeel het Covid-19 gehad.”

Onderwys is lankal nie meer ‘n boeke-ding nie; dit is baie meer as om ‘n kind net uit ‘n boek te leer. Onderwysers is ‘n ma by die skool, ‘n suster, hulle doen opvoeding, luister en hanteer probleme.

“Ek dink ons het ‘n baie groter invloed op ‘n kind se lewe as wat ons besef. Partymaal is die enigste liefde wat hulle kry, daardie bietjie ekstra aandag wat die juffrou vir hulle gee.”

Yulanda glo dat onderwysers in hierdie tyd belangrik is omdat hulle omgee en as hulle positief is, dan bly die kinders positief.

Related Articles

Back to top button