NewsSchools

Die heerlike lente by Little Angels Dagsorgsentrum

Die kleuters het saadjies geplant, liedere gesing en piekniek gehou om die koms van die lente te vier.

Die oulike kleuters van Little Angels Dagsorgsentrum het onlangs gespog met mooi prente, plantjies en ‘n piekniek om die lente vrolik te vier.

Chevonne Buitendag, eienaar en hoof van die dagsorgsentrum het vertel dat hulle vanaf Dinsdag, 31 Augustus die lente die hele week lank op ‘n Christelike manier by die dagsorgsentrum gevier het.

Shane Botha besig om haar saadjie te plant. Foto: Ingestuur.

“Juffrou Sandra van der Merwe het met die mooiste boodskap aan ons kleuters verduidelik dat hulle die plantjies in die grond is, hoe klein hulle was voor hulle Jesus leer ken het, en vir Jesus nou elke dag beter leer ken deur hulle Bybel te lees. Die water wat hulle bygooi verteenwoordig hulle Bybel en dit is hoekom dit so belangrik is om elke dag jou Bybel te lees. Die saadjie verteenwoordig die Saad wat die Here in elkeen van ons gesit het. Hy het iets spesiaals in elkeen van ons gesit wat ons gebruik om ander na Hom toe te lei,” het sy gesê.

Nyakalko Phokojoe maak die grond gelyk. Foto: Ingestuur.

Sy het vertel dat die kleuters hul plantjies elke dag water gee sodat hulle kan sien hoe hulle groei.

Op Woensdag, 1 September is daar foto’s van die kleuters geneem, op Donderdag, 2 September het die kleuters hul hande geverf waarmee hulle mooi kunsprente gemaak het, en op Vrydag, 3 September het hulle na lenteliedere geluister en met gepakte pieniekmandjies ‘n wonderlike piekniek gehou.

Alexander Sounes lyk te oulik. Foto: Ingestuur.

“Ons het ook elke dag ‘Lees jou Bybel bid elke dag en jy sal groei’ in Afrikaans en Engels gesing, want dit is vir ons baie belangrik om elke dag as span saam te werk om ‘n verskil in ons kleuters se groei te maak. Ons sê elke dag vir ons Hemelse Vader dankie vir die wysheid wat hy vir ons gee om ons roeping en lewensdoel te kan vervul,” het sy vertel.

Miane Maritz geniet haar sap tydens die piekniek. Foto: Ingestuur.
Luhandre Dednam het sy saadjie reeds geplant. Foto: Ingestuur.
Keanu Sounes met sy kunswerk. Foto: Ingestuur.
Kabo Tau met sy kunswerk. Foto: Ingestuur.

Related Articles

 
Back to top button