CrimeNews

Ma en seun met pap wiel op R28 geskiet: Familie wat wou help ook aangeval

'n Jong familie waarsku padgebruikers om nie langs die R28 te stop nie. Dit nadat die skote geklap het toe hulle 'n ma en kinders met 'n pap wiel wou help.

‘n Jong familie van Randfontein waarsku mense om nie langs die R28 tussen Randfontein en West Village stil te hou nie.

Dit nadat hulle deur onwettige myners aangeval is en selfs moes wegjaag toe daar op Saterdag 28 Augustus op hulle geskiet is toe hulle ‘n ma en kinders wou help wie se voertuig ‘n pap wiel gehad het.

Die Van der Westhuizens het aan die News vertel dat hulle onlangs na Randfontein verhuis het nadat hulle twee jaar in West Village gebly het. Een van die redes hoekom hulle wou verhuis was omdat daar te veel voorvalle met onwettige myners was en hulle nie meer veilig gevoel het nie.

*Riaan en *Rene was die Saterdag op pad terug van Krugersdorp af na ‘n dag van inkopies. Iewers tussen 18:00 en 19:00 het hulle verby ‘n voertuig gery en Riaan het twee vermoedelik onwettige myners sien ruk aan die kar se deur. Hy het die skaduwee van ‘n kind op die agtersitplek gesien en besluit om te gaan help.

Hy het so 20 meter voor die voertuig gestop en uitgeklim terwyl Rene en hul kind in die kar gebly het. Toe hy vir die mans skreeu het hulle agter ‘n muur gaan wegkruip.

Hulle het komberse om hulle gehad en dit is hoe ons geleer het om die onwettige myners uit te ken,” het Rene vertel.

Voordat Riaan egter verder kon help, het die mans op hulle begin skiet. Hy het in die voertuig gespring, sy familie se koppe afgedruk en weggejaag. Nadat hy Rene en hul dogter by familie in West Village afgelaai het, is hy en sy broer terug om te gaan help.

Die eienaar van die voertuig, ‘n vrou, en haar kinders het blykbaar ‘n pap wiel gehad. Hulle het langs die pad gewag vir haar swaer om te kom help.

Die onwettige myners het hulle daar aangeval en die vrou en 16-jarige seun is geskiet.

Garry Badenhorst van die West Village Neighbourhood Watch het bevestig dat die ma in die hand geskiet is en die seun in die skouer.

Rene maan padgebruikers om asseblief nie daar te stop nie en eerder hul voertuie ‘stukkend te ry’ as om te stop.

Dit was ook nie die familie se eerste ondervinding met onwettige myners nie. Hulle het in die verlede glo patroondoppies in hul erf in West Village opgetel na ‘n geskietery tussen onwettige myners. Riaan het ook voorheen onwettige myners in die veld gejaag nadat hulle glo helder oor dag ‘n vrou beroof het.

Die polisie het daardie keer net die mense gevra om die vrou se handsak terug te gee voordat hulle laat gaan is.”

Riaan voel dit is ‘n hoërisikopad en het vertel dat hy al boetes daar gekry het, maar dat hy nie daar sal stop nie.

Hy glo daar word hopeloos te min gedoen aan die onwettige myners in daardie area en het vertel dat hy vermoed die polisie trek voordeel daaruit.

Related Articles

Back to top button