Rosemarie Kahn Kleuterskool bederf vroue in die voorste linies

Die kleuterskool het onlangs Life Robinson se vrouepersoneel bederf met sjokolades.

Rosemarie Kahn Kleuterskool het onlangs vir die dames van Life Robinson Hospitaal sjokolades ingesamel om vir hulle dankie te sê vir hul harde werk.

Die kleuterskoolhoof, Annézel Meiring, het vertel dat hul klein kleuterskool die Vrouedag-projek geloods het om elkeen te bedank wat elke dag dapper op hul pos is.

Hulle het op Maandag, 9 Augustus iets soets gaan uitdeel vir die dames in die voorste linies.

“Ons sjokolades is met baie liefde ingesamel om net ‘n ekstra hupstoot te gee vir iemand wat ‘n moeilike dag beleef.”

Heleen Brink, Mandy Perry, Karlo Lottering en Anrich Meiring. Foto: Ingestuur.

Volgens Annézel word daar baie oor Randfontein gesê – soms is dit mooi en soms is dit minder mooi – maar toe die pandemie tref het die dorp met baie deernis en empatie saam gestaan en in mekaar se hartseer gedeel.

“Die prys van Covid is baie hoog; soveel bekendes en geliefdes, verlies op verlies. Ons saniteer, was hande, dra maskers, pas sosiale afstand toe, drink ekstra vitamines, maar wat van die mense wat heel voor in die linie veg? Hoe moet hulle harte voel om heeldag en aldag deur morbiede nuus en diagnoses omring te word? Hoe moet hulle hul nie bekommer of hulle dalk hierdie gewraakte virus saam huis toe neem na hul geliefdes toe nie?”

Sy wil vir Life Robinson Hospitaal sê dat hulle elkeen by die hospitaal salueer.

“Julle dien ons gemeenskap met moed en dapperheid; dit word raakgesien en waardeer.”

Rosemarie Kahn Kleuterskool stuur vir almal by die hospitaal liefde en sterkte.

Exit mobile version