Pastoor is ook ‘n Mnr Randfontein-finalis

'n Plaaslike pastoor van Elandsvlei beoog om 'n verskil te maak as finalis vir Mnr Randfontein 2021/2022.

‘n Pastoor van Elandsvlei beoog om ‘n verskil te maak as finalis vir Mnr Randfontein 2021/ 2022.

Die 29-jarige Barend Kotze is ‘n pastoor by 153 Bediening, stigter van Ekklesia Equipping Ministries, en die dekaan van die Bybelskool.

Hy vertel dat sy liefde en passie vir die Here en mense die rede is hoekom hy ingeskryf het.

Barend wil almal aanmoedig om God se liefde en genade te ervaar, en om elke dag voluit te lewe en ‘n verskil te maak in mekaar se lewens.

Barend Kotze, ‘n pastoor in Elandsvlei is ‘n Mnr Randfontein 2021/ 2022-finalis. Foto: Michelle Roodt.

“Ek het nog altyd ‘n passie om met mense te werk. Na skool het ek as ‘n bakker gaan werk, maar die begeerte om ‘n verskil in mense se lewensreis te maak was my lewensdoel. Daarom het ek Teologie en Berading gaan studeer. Nou geniet ek en leef my roeping uit tot eer van die Here.”

Barend het al in verskeie dorpe en in die buiteland vir mense gaan vertel van Jesus Christus. Tans is hy besig met ‘n radio-omroeperkursus om die Woord wyd te verspei en berading te gee. Met sy uitreike en gemeenskapswerk hoop hy om dié wat moed verloor het, weer hoop te gee en te bemoedig.

“Ek het besluit om aan die kompetisie deel te neem omdat ek die groot uitdaging en die behoeftes van die minderbevoorregtes raaksien. Ek glo ek kan iewers ‘n verskil maak deur my liefde en passie vir mense.”

Volgens Barend word hy gemotiveer en geïnspireer deur elke dag iets nuut te leer, want so verryk hy iemand se lewensreis.

Hy sal sy titel gebruik om die gemeenskap te bedien, aan te moedig en te motiveer.

“Saam kan ons ‘n groot verskil in ons dorp en omgewing maak. Almal moet as ‘n kind van God hul talente of roeping gebruik om daardie groot verskil te maak in ons samelewing.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version