Tuisgemaakte hondekoekies vir jou viervoetkinders

Bederf jou viervoetkinders met Ina Robertson se tuisgemaakte hondekoekies.

‘n Inwoner van Randfontein het ‘n besigheid begin wat jou viervoetkinders gelukkig sal maak.

Ina Robertson, 59, het twee maande gelede haar eie besigheid, Buddy Bites begin om ‘n inkomste te verdien. Sy het vertel dat sy vir die Here gevra het vir ‘n uitweg en toe kry sy die gedagte om hondekoekies te begin bak.

Haar liefde vir diere was die dryfkrag agter haar besigheid. Sy het maar pas daarmee begin en nie baie mense weet van die besigheid nie, maar sy glo dat dit al hoe beter sal gaan. Ina het baie ondersteuning gekry van pastore in Elandsvlei wat vir haar kaartjies gemaak het, en sakkies, bottels en bestanddele geskenk het sodat sy haar koekies kan bak en verkoop. Hulle het haar gemotiveer om daarmee voort te gaan toe sy wou handdoek ingooi omdat sy gevoel het dat niks daarvan sou kom nie.

Ina Robertson se tuisgemaakte hondekoekies. Foto: Michelle Roodt.

Tans bak sy elke dag ongeveer 200 koekies wat sy in ‘n 20L-houer plaas. Dan verpak sy alles in bottels en sakkies. Haar doggy treats, soos sy dit noem, bevat grondboontjiebotter maar geen suiker of sout nie, en is gesond vir jou viervoetkind.

‘n Bottel met 50 koekies kos R70, en ‘n sakkie met 25 koekies kos R35.

As jy van die Buddy Bites wil koop, skakel vir Ina by 082 322 5795.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version