NewsSchools

Ram-onnies rol ook hul moue op vir Covid-19 entstof

Personeel van Laerskool Randfontein het onlangs hul entstof ontvang. Daar is tot dusver 38 van hul personeellede ingeënt.

Personeel van Laerskool Randfontein het onlangs gewys dat hulle omgee vir hulself en dié rondom hulle toe hulle moue opgerol het vir die Covid-19 entstof.

Annie Nolan, skoolwoordvoerder het gesê dat personeel op Woensdag, 23 Junie, Donderdag, 24 Junie, Vrydag, 25 Junie asook Maandag, 28 Junie by die Greenhills Sportstadion was om ingeënt te word.

Sy het vertel dat die mense baie professioneel was en hulle baie mooi hanteer het, en presies geweet het wat hulle doen.

“Daar was glad nie probleme nie, ons het net lank in die rye gestaan omdat so baie mense ingeënt moes word, maar selfs dit was ook nie eers so erg nie.” Sy was verbaas oor die groot aantal onderwysers wat opgedaag het om ingeënt te word.

Volgens Annie is daar tot dusver 38 Laerskool Randfontein-personeellede ingeënt.

“Ongelukkig kan die beheerliggaamlede nog nie ingeënt word nie en baie van die ander personeel is siek of hulle was in aanraking met iemand wat koronavirus het, maar dié wat die geleentheid gehad het, het dit aangegryp.”

Hulle het vier op ‘n slag gegaan en volgens Annie het niemand regtig ernstige newe-effekte gehad nie, behalwe dalk ‘n seer arm en hoofpyn. “Almal se ingesteldheid is goed.”

Dié wat ‘n bietjiie skrikkerig was, het later besef dat daar nie rede daarvoor was nie, en het dit vergelyk met ‘n B12-inspuiting.

“Dit was alles maklik en effektief, en ons is daardeur,” het Annie vertel.

Hulle het ook ‘n inentingskaart (paspoort) gekry omdat hulle die entstof ontvang het.

“Ons as skool is regtig dankbaar dat die geleentheid vir ons gegun is, want daar is baie mense in ons skool wat siek is.”

Related Articles

Back to top button