News

KYK: Nog donker tye lê voor, maar Suid-Afrikaners kan binnekort self besluit waar hulle krag wil koop

Suid-Afrikaanse kragverbruikers steier die afgelope paar weke onder beurtkrag. Boonop is die verwagting dat die einde nog nie in sig is nie. Die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, het aan Izak du Plessis gesê dat daar egter ook goeie nuus is.

Hoewel daar hard gewerk word om Eskom weer ‘n betroubare kragverskaffer te maak, moet mense besef dat staatskaping onberekenbare skade aan die maatskappy berokken het, wat lank gaan neem om reg te maak, sê die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter.

De Ruyter het ‘n lang mediastilte verbreek te midde van ‘n reeks beurtkragfases wat fase vier ingesluit het.

Hy het nie geskroom om te erken dat Eskom se kragverskaffing onder ernstige druk is nie.

“Die skade is nie net beperk tot kragstasies en ‘n gebrek aan instandhouding nie, dit sluit ook verkrygingstelsels, inligtingstelsels, instandhoudingstelsels en projekbestuurprogramme in,” het De Ruyter gesê.

De Ruyter meen dat gereelde beurtkrag minstens nog tot September toegepas sal word.

Intussen sal daar sistematies aan die verskillende kragstasies gewerk word om hulle weer ten volle in werking te stel. Volgens De Ruyter is daar eenvoudig net nie geld vir nuwe kragstasies nie.

Daar is egter lig in die tonnel en die verwagting is dat Eskom in ‘n ander hoedanigheid in samewerking met private kragverskaffers deel gaan wees van ‘n netwerk van kragvoorsiening.

“Ons kyk na ‘n ontbondelde Eskom waar ons transmissiemaatskappy die basis gaan vorm van ‘n elektrisiteitsmark waar Eskom en private kragverskaffers in die stelsels gaan inbie. Pryse gaan deur die mark bepaal word en verbruikers sal kan kies by wie hulle hul krag wil aankoop,” het De Ruyter laat blyk.

Verbruikers sal glo kan kies tussen verskillende pakkette wat volgens behoefte saamgestel is, wat beloof om ‘n meer dinamiese, markgedrewe elektrisiteitsektor daar te stel wat die land in pas sal bring met dit wat in die res van die wêreld te sien is.

President Cyril Ramaphosa het kort op die hakke van die onderhoud met De Ruyter bekend gemaak dat die drempel vir eie gebruik van 1MW tot 100MW verhoog gaan word.

Dit volg nadat die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe tot verlede week toe nog vasgeskop het om die huidige perk van 1MW tot net 10MW te verhoog, na druk toegepas is dat dit tot 50 MW verhoog moet word.

Rolspelers en politici is dit eens dat Ramaphosa se aankondiging ‘n groot stap in die regte rigting vir kragvoorsiening in Suid-Afrika is.

Suid-Afrikaners hoef boonop ook nie té lank te wag vir die nuwe kragbedeling nie, aldus De Ruyter.

Kyk na Izak du Plessis se gesprek met André de Ruyter hier:

Related Articles

Back to top button