Elandsvlei-inwoners ondersteun Riebeeckrand-voedingskema

Vir hul Jeugdag-projek het hulle 34 pakkies vol toiletware en ander goedere opgemaak om dié te help wat dit nodig het.

Inwoners van Elandsvlei het hande gevat om te help waar hulle kan.

Hulle het onlangs 34 pakkies vol toiletware en verskeie ander items vir die voedingskemakinders van Hoërskool Riebeeckrand geskenk.

Jasper Nienaber van XLE Services; Barend Kotze, ‘n pastorale berader en spelterapeut; Baba Dippernaar, eienaar van Menûchâh-koffiewinkel; Marinda Troskie van Mobile Tread; en Maggie Jonker van Creative Nails doen wat hulle kan uit hul eie sakke om die gemeenskap te help.

Jasper Nienaber en Barend Kotze. Foto: Michelle Roodt.

Barend, een van die organiseerders het vertel dat hulle as ‘n span al lank betrokke is by liefdadigheidswerk, en dié een was hulle Jeugdag-projek met die oog op 16 Junie.

“Ons span het bymekaargekom en besluit om betrokke te raak deur toiletware te pak vir die skool se voedingskemakinders. Baie van die kinders het ander familielede en ons het vir hulle ook iets gepak,” het Barend vertel.

Hulle besluit omdat die skool die kospakkies gee, gaan hulle die toiletware gee sodat die kinders innerlik en uiterlik gevoed kan word.

Baba Dippernaar en Marinda Troskie. Foto: Michelle Roodt.

“Jeugdag gaan vir my daaroor om te sê dat elke jong kind ‘n keuse het vir ‘n nuwe begin in hul lewe, en as die publiek vir elke kind kan help om die potensiaal raak te sien wat in hulle is, dan kan hulle streef om beter leiers vir môre te wees,” het hy gesê.

Barend-hulle nooi mense om betrokke te raak deur enige klere of kos, of enige iets wat hulle wil te skenk sodat hulle weer ander kan help.

“Ons gooi ons nette uit om ‘n verskil te maak.”

Exit mobile version