Lede van die Vrouelandbou-unie (VLU) se Ridderspore-aandtak het op ‘n ysige Donderdagaand, 3 Junie weer vir hul maandelikse vergadering bymekaargekom.
Sharon Bodington was die gas vir die aand en sy het lede ‘n interessante en unieke manier geleer hoe om geskenke toe te draai.
“Ons het onder andere spesifiek geleer hoe om wynbottels met lint en lekkergoed te versier,” het Gerda Benadie, voorsitter van die Ridderspore-aandtak gesê.
Hulle is ook gewys hoe om geskenkbokse te vou, blomme uit goiing (hessian) te maak, en denims in geskenksakkies te omskep.
“Dit was ‘n gesellige aand,” het Gerda gesê, en bygevoeg dat hulle die koue aand op die regte manier afgesluit het – met sop en brood.
Enigiemand wat belangstel om by die VLU Ridderspore-aandtak aan te sluit, kan gerus vir Gerda Benadie kontak by 083 995 6571.