CrimeNews

Vermoorde EPR Reaksie-offisier as Deon Willemans geïdentifiseer

"Ek sal nooit vergeet nie toe hy my gebel het om te sê sy seun is gebore. Hy was so bly om 'n pa te wees."

Die EPR-reaksieoffisier wat aan diens gesterf het, is die 45-jarige Deon Willemans.

Johan Krogh, algemene bestuurder by EPR het vertel dat Deon gereageer het op ‘n alarm wat by ‘n woning in De Villersstraat, Westonaria geaktiveer is.

Hy het die huisbewoners laat weet dat alles in orde was op die perseel en teruggeklim in sy voertuig. Terwyl hy terugvoering aan die beheersentrum gegee het, het twee aanvallers hom deur sy toe venster geskiet.

“’n Lid van die publiek het die EPR-beheersentrum geskakel en vertel wat gebeur het,” het Johan gesê.

Johan het namens die bestuur en Deon se kollegas by EPR hul opregte meegevoel met Deon se familie uitgespreek, en bygevoeg dat hulle die dood betreur van nog ‘n held wat gesterf het terwyl hy sy daaglikse pligte uitgevoer het.

Deon se broer, Stefanus, 49, sukkel nog om tot verhaal te kom nadat die tragiese nuus bekend geword het.

Hy het vertel dat Deon ‘n stil huismens was wat altyd sy seun eerste gestel het.

Volgens Stefanus het sy broer voorheen 10 jaar lank by EPR gewerk, waarna hy ‘n pos by die myn aanvaar is. Nadat Deon by die myn afgelê het, is hy terug EPR toe waar hy slegs agt maande gewerk het voordat hy koelbloedig vermoor is.

“Ek sal hom onthou vir sy sagte hart – maar kan ‘n mens in woorde omsit hoe jy jou kleinboet onthou? Daar is ‘n miljoen herinneringe wanneer ek aan hom dink; hy was my kleinboet en ons gaan hom vreeslik mis.”

Stefanus het vertel dat sy broer lief was vir visvang, veral baars (bass), en hy het ook modelvliegtuie gevlieg. Een van Deon se grootste drome was om te vlieg en dit is iets wat hy die graagste wou doen.

“My broer het vlieglesse geneem en wou graag sy ligtevliegtuiglisensie kry.”

Hy het vertel dat hy altyd kosbare herinneringe sal koester van al die dinge wat hulle as kinders saam gedoen het.

“Ek sal nooit vergeet nie toe hy my gebel het om te sê sy seun is gebore. Hy was so bly om ‘n pa te wees.”

Deon word oorleef deur sy seun Jan, drie broers, en sy meisie wat in Manila woon.

Related Articles

Back to top button