Riebeeckrand-beheerliggaam maak area om skool skoon en veiliger

Die beheerliggaam hoop dat die nodige aanpassings die veiligheid van die skool se leerders en ouers, en die verkeersvloei om Hoërskool Riebeeckrand sal verbeter.

Beheerliggaamslede van Hoërskool Riebeeckrand het een Saterdag in April ingespring om die sypaadjie en parkeerarea in Angelierstraat skoon te maak.

Volgens Elzeri Wright, skoolwoordvoerder dra die beheerliggaam hul skool se leerders, personeel en ouers se veiligheid op die hart.

Die grootste taak wat hulle egter aangepak het was om die strook grond tussen die straat en die muur waaragter die spoorlyn verbyloop, skoon te skraap aangesien dit ‘n veiligheidsrisiko geword het.

“Die beheerliggaamslede het die uitgebreekte dele van die muur met grond toegestoot sodat voetgangers nie meer daardeur kan loop nie,” het Elzeri gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle hul eie fondse en toerusting vir die projek gebruik het, en dat dit wonderlik is om te sien hoe betrokke die lede is.

“Die beheerliggaam het ook versoek dat die verkeersdepartement en ander betrokke departemente Angelierstraat ‘n eenrigtingstraat maak.”

Die strook grond oorkant die skool in Angelierstraat wat skoongemaak is. Foto ingestuur.

Volgens Elzeri sal vragmotors swaarder as 3 500kg dan van alternatiewe roetes moet gebruik maak en nie meer in Angelierstraat kan ry nie. Die beheerliggaam hoop dat die nodige aanpassings die veiligheid van die skool se leerders en ouers, en die verkeersvloei om Hoërskool Riebeeckrand sal verbeter.

Riebeeckrand versoek ook dat openbare vervoer die Leliestraathek as op- en aflaaipunt sal gebruik.

Exit mobile version