MunicipalNews

KYK: Waterlek in Aureus – ‘Dit loop al vir maande uit’

Twee sakemanne in Fodenstraat, Aureus is moedeloos weens 'n waterlek wat maande lank nie aandag kry nie.

Water is ‘n kosbare hulpbron op aarde maar dit word duidelik nie so beskou hier in Randfontein nie …

In Fodenstraat, Aureus word honderde indien nie duisende liters water vermors weens ‘n waterlek wat net nie die munisipaliteit se aandag kry nie.

Met die Herald se besoek het liters en liters water uit die grond gespuit en meters ver al langs Fodenstraat afgeloop.

Volgens Jan Venter, eienaar van Randfontein Bedding is die probleem al in April gerapporteer maar nog niks is gedoen om die watervermorsing stop te sit nie.

Kyk hier:

“In Oktober 2019 het Rand Water verbruikers van Gauteng tot in Mpumalanga gevra om water te spaar. Ek het Rand Water gevra om met hierdie probleem reg voor my besigheid te help, want ons kom net nie reg met ons munisipaliteit nie. Hulle het binne twee dae na my toe teruggekom en gesê hulle sal druk op ons munisipaliteit uitoefen, maar die munisipaliteit het tot dusver nog nie eers uitgekom om te kyk nie.”

Jan noem dit ‘n skande aangesien hy R15 000 aan munisipale belasting betaal, sonder om die nodige diens te kry.

“Wat doen die munisipaliteit met die geld, en waarheen gaan dit? Wat doen hulle vir jou en my? As ek as sakeman byvoorbeeld sou durf waag om nie my kragrekening nie betaal nie, word my krag afgesny. Al wat ons vra is gaan uit en doen wat van jou verwag word, en waarvoor jy betaal word.”

‘n Slaggat vol water in Fodenstraat.

Jan is egter nie die enigste sakeman wat ontevrede is nie.

Grant Theron, eienaar van die staalonderneming Fouraela in Fodenstraat het gesê hy trek aan die einde van Junie omdat die lekkende water skade aan sy perseel aangerig het en omdat die valhekke wat naby sy perseel is, sy onderneming benadeel.

“Daar kom soms 30-ton trokke hierheen wat voorraad moet kom op- en aflaai, maar hulle moet in die straat parkeer omdat die ingang verniel is. Daar waar die water by die ingang verbyloop is dele van die teerpad weggespoel en daar is slaggate.”

Grant het vertel dat daar boonop ‘n valhek is wat toegang tot die straat bemoeilik en aflewerings vertraag.

Nog ‘n slaggat vol water in Fodenstraat.

“Dit maak besigheid moeilik. Ons klante sluit ook buitelanders in, en nou moet almal 30 minute of selfs langer wag om by ‘n valhek in te kom. Minstens twee van ons klante het gesê as hulle weer so lank moet wag, kom hulle nie weer nie. Ek verloor besigheid want die dorp word net nie in stand gehou nie. As jy iemand betaal om ‘n werk te doen, verwag jy mos dit gaan gedoen word. Indien nie, sal ek hulle laat gaan. Hoekom geld dieselfde nie vir die munisipale werkers nie?”

Albei sakemanne het vertel hoe moeilik dit is om die munisipaliteit in die hande te kry, en boonop kry jy nie ‘n rekeningstaat nie.

Die groot gat vol water in Fodenstraat. Vragmotors moet buite die staalonderneming stilhou omdat hulle weens die swak toestand van die pad nie by die ingang kan inry nie.

Die Herald het Rand Water se woordvoerder, Justice Mohale genader vir kommentaar maar hy is met verlof tot 1 Junie. Pride Mguli het wel in sy afwesigheid gesê hulle sal kommentaar lewer sodra die munisipaliteit hul saak gestel het.

Phillip Montshiwa, die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit-woordvoerder is ook genader en hy het op 26 Mei laat weet dat die navraag na die betrokke departement verwys is en dat hy die saak sal opvolg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button