VLU Middelvlei verbreed hul kunskennis
Die dames het onlangs geleer hoe om kolletjiekuns te doen.
Die dames van die Vrouelandbou-unie (VLU) se Middelvlei-tak het op Donderdagoggend, 13 Mei by die Renaissance Aftreeoord bymekaargekom vir hul maandelikse vergadering.
Die lede het tydens die vergadering hulle kunskennis verbreed deur te leer oor hoe om kolletjiekuns (dot art) te doen.
Die VLU Middelvlei-tak se skakelbeampte, Tersia Herbst het vir die dames geleer hoe om hierdie kalmerende kuns te doen.
Elke dame het ‘n kunspakkie ontvang wat verf, stokkies, ‘n klip en ‘n plaat bevat het, en Tersia het toe mooi verduidelik hoe om die kolletjiekuns te doen.
“Dot art is ‘n kuns waarvoor akrielverf gebruik word. Dit kan op enigiets gedoen word solank die oppervlak goed voorberei is,” het Tersia vertel.
Prente word gevorm deur middel van kolle en dit word ook ‘Mandala’ genoem, en is volgens Tersia ‘n baie kalmerende en ontspannende kunsvorm.
Die dames het die oggend baie geniet en elkeen kon so kreatief wees as wat hulle wou met hul klippe.