Local newsNews

Randfontein se Neil maak naam in Hollywood!

Neil Sandilands is trots om te sê hy kom van Randfontein af.

Van plaaslike rolle tot internasionale sterstatus.

Ja, Neil Sandilands maak naam in Hollywood en is reeds in bekende flieks en TV-reekse te sien maar een ding is seker, dié bekende akteur is trots om te sê dat hy van Randfontein af kom.

Die 46-jarige Neil het in Porgesstraat sy eerste tree gegee en sal nooit vergeet waar sy wortels lê nie. Hy was in Laerskool Randfontein waar hy onderhoofseun, ‘n kranige atleet en rugbyspeler was. Hy het vir ‘n kort tydjie ook die o.11-hekkiesrekord in Randfontein gehou.

Neil Sandilands as General Steven Abbot in Sweet Tooth. Foto: Ingestuur.

Hy onthou ook nog hoe hy en sy vriende in bosse weggekruip het en ‘Open the gate’ gespeel het.

Volgens Neil onthou hy steeds die leuse van die skool, naamlik ‘Ons ken ten dele’ en dit is iets wat hom altyd sal bybly.

Hy was ‘n koshuiskind by Hoërskool Monument en is toegelaat om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem.

“Ek onthou nog my eerste meisie in Randfontein; my eerste soen by Riebeeckmeer, en die Randfonteinse Skoue.”

Neil het vertel dat hy ‘n mynkind was – sy pa was ‘n mynwerker en sy ma ‘n onderwyser by Laerskool Kocksoord.

Hy dink altyd aan Robinmeer waar hy gaan probeer visvang het, hoewel nie altyd met ewe veel sukses nie. Hy het sy eerste vis by Riebeeckmeer gevang waar sy pa hom geleer het hoe om hoeke aan te sit.

“Randfontein beteken vir my amper dieselfde as ‘n persoon se naam; jy moet hom gaan soek. Jy word op ‘n plek gebore en dan meander jy reg oor die wêreld en dekonstrueer daardie oorsprong; maar dit is vir my geweldig belangrik en ek dra dit met trots want ek weet presies wie ek is en waar ek vandaan kom – Randfontein, daai rooigrond, die herinneringe daaraan. Ek is nie skaam om te sê ek kom van Randfontein af nie.”

Neil Sandilands is trots op waar hy vandaan kom. Foto: Ingestuur.

Volgens Neil is Randfontein ‘n groot deel van sy identiteit en hoe hy dit uitleef. Al het die dorp ‘n reputasie as ‘n plek wat sê ‘moet nie met my mors nie’ is dit vir hom iets wat hy geweldig kostelik vind.

Hy het oor die jare talle rolle vertolk. Hy was onlangs Bernoldus in Dam wat op Showmax beskikbaar is; hy verskyn saam met Tom Hanks in News of the World; hy is The Thinker in The Flash; en hy verskyn binnekort as General Steven Abbot in Sweet Tooth waar Robert Downey Jr een van die uitvoerende vervaardigers is. Dié film sal op 4 Junie op Netflix beskikbaar wees.

Neil het ook onlangs sy eerste album Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse (Maanskyn) vrygestel wat reeds al die nommereen-treffer op Suid-Afrika se iTunes was.

Neil Sandilands in Showmax se Dam. Foto: Ingestuur.

“Dit was vir my ‘n groot verrassing want ek het eintlik nog net vier werke musikaal gedoen, daarom is ek baie trots om te kan sê dat my eerste album die nommereen-treffer geword het.”

Volgens Neil is sy ander groot liefde, behalwe toneelspel en lees, visvang en hy probeer waar hy ook al hengel om van die endemiese spesies te vang.

“My pa en oupa het dit aan my oorgedra en ek is geweldig lief daarvoor. Net soos ek trots is op Randfontein is ek trots op die feit dat ek weet wat ek doen wanneer ek visvang.”

Related Articles

Back to top button