NewsSchools

Riebeeckrand-leerders presteer by kykNET-toneelspelkompetisie

Drie leerders van Hoërskool Riebeeckrand was onder die 82 leerders van regoor die land wat die tweede rondte van die kompetisie gehaal het.

Drie talentvolle leerders van Hoërskool Riebeeckrand was trotse finaliste van kykNET se nasionale toneelspelkompetisie.

Volgens Elzeri Wright, skoolwoordvoerder het meer as 600 leerders van regoor die land oudisies afgelê. Daar is toe slegs 82 finaliste gekies om in Kaapstad verder mee te ding. Onder hulle was Rick van den Berg, Junior Khumalo en Dallyn Windvogel.

Sy het vertel dat die 82 finaliste in die eerste rondte ‘n monoloog asook ‘n improvisasiestuk moes aanbied, en slegs 32 leerders het die tweede ronde gehaal. Rick en Dallyn was twee van hulle.

“In die tweede rondte het hulle prosa en gedig ‘n gedig voorgedra om ‘n plek in die derde rondte te kry, en Dallyn was een van 16 leerders wat rondte drie gehaal het.”

Volgens Elzeri moes die top 16-leerders ‘n radiodrama en televisiedrama opvoer, wat vol opwinding en uitdagings was. Die televisiedrama het op die stel van Suidooster plaasgevind.

Die top agt is daarna aangekonding en om te bepaal wie die top drie sou wees, moes die leerders voor ‘n gehoor hulle monoloog, gedig en prosa aanbied.

Dallyn Windvogel het in die top drie van kykNET se nasionale toneelspelkompetisie geëindig. Foto: Elzeri Wright.

“Dit is met groot opwinding en trots dat ons kan aankondig dat Dallyn Windvogel in die top drie van kykNET se nasionale toneelspelkompetisie geëindig het. Hy het ook ‘n toekenning vir die beste prosa ontvang, en spog met ‘n rol in ‘n radiodrama wat in 2022 op Bok Radio uitgesaai gaan word,” het Elzeri vertel.

Junior Khumalo het die toekenning ontvang vir die belowendste kandidaat uit al 82 finaliste wat deelgeneem het.

Riebeeckrand is ongelooflik trots op dié leerders wat so goed gevaar het.

Related Articles

Back to top button