MunicipalNews

‘Hoekom betaal ons vir dienste? Daar’s dan niks.’

Weet jy hoe voel dit om op te staan en jy kan nie die toilet gebruik nie? – inwoner raadop oor 'n rioolprobleem.

‘n Bekommerde inwoner van Toekomsrus is raadop oor ‘n rioolprobleem waarmee sy amper twee en ‘n half weke opgesaal sit.

Jessica Pienaar het vertel dat sy vir die afgelope week, elke dag, twee keer ‘n dag die probleem gaan rapporteer het maar niks word daaraan gedoen nie.

Sy moes ‘n gat toemaak sodat die honde nie die water kan drink nie. Foto: Michelle Roodt.

“Dit is baie frustrerend want ons kan glad nie skottelgoed of wasgoed was, of bad nie. Ons was ons skottelgoed en wasgoed in skottels en gooi die water na die tyd op die gras uit.”

Sy het verduidelik dat sodra hulle water in die rioolstelsel wil afspoel, stoot al die riool op, gevolglik probeer hulle dat hul rioolprobleem nie die mense rondom hulle beïnvloed nie.

“Ons kon boosaardig gewees het en elke dag aangegaan het soos ons moet, maar ons het besluit om eerder in skottels te was wanneer ons moet.”

Jessica het vertel hoe moeilik dit is om nie eers die toilet te kan gebruik nie omdat hulle dit nie durf spoel nie. Sy is ‘n diabeet en het die badkamer gereeld nodig.

“Ons moet iewers anders ‘n badkamer gaan gebruik. Weet jy hoe voel dit om op te staan en jy kan nie die toilet gebruik nie?”

Die riool wat in hul erf uitloop. Foto: Michelle Roodt.

Sy het nou al die een gat toegegooi sodat hulle honde nie die water kan drink nie, want sy vrees dat hulle sal doodgaan, want dit is ‘n gesondheidsrisiko vir haar, haar familie en hul honde.

Dan is daar nog die vreeslike stank, veral as dit warm is. Weens die reuk kan hulle nie eers die agterdeur oopmaak nie.

“Dit is nie reg nie! Hoekom betaal ons vir dienslewering maar geen diens word gelewer nie?”

Al wat Jessica wil hê is dat die probleem opgelos word en dat mense hul werk doen.

Related Articles

Back to top button