Niks is so erg soos om riool te ruik wanneer jy jou voordeur oopmaak nie. Ongelukkig is dit ‘n probleem waarmee Johan Loots van Helikonpark al van Woensdag, 7 April af sit.
Die 44-jarige Johan het verduidelik dat dit op dié dag gereën het. Aangesien afvoerpype en die mangat onder die pad verstop is, het riool in sy erf begin uitstoot.

Dit ontstel hom dat dit nie net ‘n gesondheidsrisiko vir hom inhou nie maar ook vir die hele buurt. Hoewel hy die probleem al meer as een keer gerapporteer het, word niks daaraan gedoen nie.
“Die gemors is hier buitekant jou huis. Jy kan nie ‘n deur of venster oopmaak nie want die reuk kom in die huis in.”
Hy het vertel dat wanneer mens met jou voertuig deur die riool ry, word die voertuig vuil, dit word oral ingetrap en dit is ‘n onhoudbare situasie.

“Ek wil net hê die probleem moet opgelos word. Dit is totaal onaanvaarbaar dat ‘n mens vir ‘n diens betaal en niks word gedoen nie,” het Johan vertel.




