Dominee bak pannekoek as liefdesdaad

Dominee Carel Pienaar het 100 pannekoeke gebak wat hy gratis weggegee het aan enigiemand wat dit wou hê om hulle te herinner dat Jesus lief is vir hulle.

Niks is smaakliker as ‘n smullekker pannekoek nie, en dominee Carel Pienaar van die NG Kerk Randfontein-Wes het besluit om 100 van hulle te bak.

Dit is nie ‘n April-grap nie … Carel het op Donderdag, 1 April van vroeg af voor die stoof gestaan en 100 pannekoeke gebak wat hy gratis weggegee het aan dié wat lus was vir ‘n lekker pannekoek – en jy kon boonop kies hoeveel jy wou hê.

Van die pannekoeke wat dominee Carel Pienaar gebak het. Foto: Michelle Roodt.

Dit is die eerste keer wat hy so ‘n inisiatief aanpak en hy beplan om dit meer dikwels in die toekoms te doen.

Volgens Carel kon mense op hul webblad pannekoek bestel en dit later gaan haal. Die pannekoek wat oorgebly het, het hy uitgedeel vir enigiemand wat honger was of daarvoor lus was.

“Ek doen dit net om te sê dat Jesus lief is vir julle en dat sy verlossing gratis is. Daarom gee ek die pannekoeke gratis weg.”

Volgens Carel is dit veral in hierdie tyd belangrik dat ons mekaar help en liefde teenoor mekaar betoon.

Dominee Carel Pienaar besig om pannekoek te bak. Foto: Michelle Roodt.
Exit mobile version