Honderde vars gesigte het daarna uitgesien om uiteindelik deel te word van die Riebeeckrand-familie toe hulle onlangs deur die skool se Poort gestap het.
Hoërskool Riebeeckrand se Poortloop is elke jaar ‘n spoggerige seremonie vol tradisie waar die Graad 8’s, nuwe leerders en personeellede deur die Poort stap na afloop van die inburgeringsprogram en hulle die skool se kode gelees het.
Elzeri Wright, skoolwoordvoerder het vertel dat die Poort se hekke daardie oggend oopgesluit is, en elke Graad 8-leerder wat deur die Poort geloop het se skoolbaadjie is vir hulle deur die hoofseun of -dogter aangetrek.
Die leerders het ‘n sertifikaat van die hoof en beheerliggaam, asook ‘n Gideon Bybel ontvang,” het Elzeri vertel.
As gevolg van die pandemie is die tradisie vanjaar ‘n bietjie anders as ander jare voortgesit.
“Sosiale afstand is toegepas en geen handdrukke is toegelaat nie, net elmboog-gelukwense. Dit is iets wat die Graad 8-leerders en hul ouers nie sommer sal vergeet van hierdie besondere gebeurtenis nie.”
Volgens Elzeri is daar oral breed geglimlag en die trane het soms ook behoorlik gevloei.
Ons is dankbaar dat die tradisie kon voortleef ten spyte van die buitengewone omstandighede waarin ons onsself tans bevind. Hoërskool Riebeeckrand glo dat hierdie tradisie vir baie leerders wonderlike herinneringe sal inhou.”