Local newsNews

Rugby- en netbal oefeninge weer volstoom by Ram

Laerskool Randfontein se rugby- en netbalspelers is opgewonde om weer te kan oefen vir dit waarvoor hulle lief is.

Selfs sport het deurgeloop onder Covid-19 wat alles deurmekaar gekrap het. Gelukkig begin alles stadig maar seker terugkeer na die ‘normaal’ soos ons dit geken het.

Op Dinsdag, 9 Maart was daar juis groot opgewondenheid onder die leerders van Laerskool Randfontein toe rugby- en netbaloefeninge afgeskop het.

Na skool het die leerders hul oefenklere aangetrek en na die velde en bane gestroom vir hul eerste amptelike oefening vir 2021.

Die Herald het ‘n draai daar gemaak en tyd saam met die o.9-rugbyspan asook die eerstenetbalspan spandeer.

Daar is wel meer op fiksheid gefokus sodat die spelers na amper ‘n jaar van geen oefening of sport nie, weer in ‘n roetine kan kom.

Francois van Tonder en Francois Keyter, die afrigters van die o.9-rugbyspan het vertel dat hulle en die spelers opgewonde is oor die seisoen en hoop dat dit sal kan voortgaan.

“Die kinders is baie honger vir rugby,” het hulle vertel.

Chantel Truter, afrigter van die eerstenetbalspan het gesê dat dit vir hulle die grootste voorreg is om weer te kan begin oefen.

“Ek dink die kinders is net so bly want dit is ‘n stukke terug na normaal en roetine.”

Sy het ook vertel dat hulle baie opgewonde is oor wat die kort seisoen vir hulle gaan inhou, en hulle is bly om te kan doen waarvoor hulle lief is.

Related Articles

Back to top button