KYK: Grootmenswêreld, hier kom Jannas!

Hoërskool Jan Viljoen se matriekklas van 2020 was opgewonde toe hulle op Dinsdag, 23 Februarie uiteindelik hul uitslae ontvang het.

Verlede jaar was een van onsekerheid maar vir die Hoërskool Jan Viljoen-matriekklas van 2020 was dit glad nie ‘n struikelblok nie.

Jannas se nou oudmatrieks het op 23 Februarie angstig by die skoolsaal ingestap om te sien of hul harde werk gedurende die pandemiejaar vrugte afgewerp het. Dit was ‘n lang wag, maar hulle kon uiteindelik asemhaal toe hulle daardie gesogte sertifikaat in hul hande gehou het.

Nadine Horn is opgewonde oor die toekoms. Foto: Michelle Roodt.

Sommige leerders het reeds vroeg skool toe gekom vir wat die laaste keer sal wees om hulle matriekuitslae te kry.

Kyk hier:

 

Nadat die spanning gebreek is, was daar baie glimlagte. Daar is ook gesels oor hul uitslae en toekomsplanne.

George Schmulling is reg vir die grootmenswêreld. Foto: Michelle Roodt.

Baie het vertel dat dit nie te moeilik was om in ‘n pandemie matriek te doen nie en dat hulle baie beter presteer het as wat hulle verwag het. Almal het een ding in gemeen – hulle is opgewonde oor die toekoms en om die grootmenswêreld te betree.

Hier is wat sommige Jannas-matrikulante van 2020 te sê gehad het:

• “Ek voel fantasties dat ek finaal uit matriek uit is,” het Mandrè-Lee Joubert gesê.

Mandrè-Lee Joubert voel fantasties. Foto: Michelle Roodt.

• Chanique Stone het vertel dat dit onwerklik voel om klaar te wees met skool, en dat die pandemie dit moeilik maar ook normaal gemaak het om matriek te doen. Dit gaan beter want nou is die stres weg.

• Volgens George Schmulling was dit nie maklik om alles self te doen nie, maar dit het hulle ‘n voorsmakie van die studentelewe gegee.

• “Dit is vir my verskriklik awesome om klaar te wees met skool. Dit maak my eintlik hartseer om die vriende agter te laat, maar om ‘n nuwe begin te hê en aan te gaan met my lewe is baie cool,” het Dalèèn Nel vertel.

Dalèèn Nel is reg vir ‘n nuwe begin. Foto: Michelle Roodt.

• Vir Adél Roos was dit ‘n bietjie moeilik om in ‘n pandemie te swot maar sy is bly dit is verby.

Adél Roos is bly dit is verby. Foto: Michelle Roodt.

• Monique van Dyk gaan haar drome volg en ‘n verpleegster word.

• “Ek is trots op my punte. Met die pandemie het ek nie gedink ek gaan so goed doen nie, maar ek sien daarna uit om Pukke toe te gaan,” het Lee Ann van Dyk vertel.

• Nicolene van Dyk het gespog dat sy al haar vereistes nagekom het en dat sy opgewonde is oor haar uitslae. Sy gaan saam met haar twee sussies Pukke toe.

• Egan Geldenhuys het vertel dat sy positief voel oor haar punte en dat sy deur is.

Egan Geldenhuys voel positief oor haar punte. Foto: Michelle Roodt.

• “Ek is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou,” het Nadine Horn laggend gesê.

• “Ek is baie trots op my punte!,” het Annerie Duvenage vertel.

Annerie Duvenage met haar uitslae. Foto: Michelle Roodt.
Exit mobile version