MunicipalNews

Buurtwag maak slaggate reg … in die reën!

Lede van Buurtwag 5.3 het onlangs wind en weer getrotseer om 'n paar van die groot slaggate op die R559 te herstel.

Terwyl meeste inwoners hulself die afgelope naweek probeer warm en droog hou het, was lede van Buurtwag 5.3 hard aan die werk om gevaarlike slaggate te vul.

Op Saterdagoggend, 30 Januarie, het ‘n span van dié buurtwag die verkeer gereguleer terwyl nog lede die slaggate op die R559 met klippe en teer gevul en reggemaak het.

Een van die slaggate wat in die pad was. Foto ingestuur.

Buurtwag 5.3 dek die Hillside-, Kocksoord- en Ten Acres-area, en hul voorsitter, Francis Joubert het vertel dat hulle dit geniet het om ‘n goeie daad te verrig.

Ons doen dit vir ons gemeenskap, en met die grootste liefde,” het sy gesê.

Die rede hoekom hulle besluit het om die slaggate te vul, het Francis verduidelik, is omdat baie voertuie beskadig word as hulle per ongeluk deur die slaggate ry. Hul buurtwagpatrolleerders het ook al skade gely as gevolg van dié slaggate.

Een van die gate nadat dit gevul en reggemaak is. Foto ingestuur.

Nadat hulle skenkings ontvang het, het hulle besluit om self die gate te vul.

Hulle het teen 9vm begin en teen 3nm toe hul oppak het hulle reeds vyf van die diepste slaggate gevul.

Francis het gesê dat hulle graag nog slaggate sal wil vul maar dat hulle eers nog skenkings van klippe en teer moet kry voordat hulle daarmee kan aangaan.

Almal het hand bygesit. Foto ingestuur.

Related Articles

Back to top button