Raad vir onsekerheid oor uitgestelde skooljaar

Plaaslike maatskaplike werker oor die onvoorspelbare en onsekere skoolkalender in 2021.

Vir sekere ouers is dit ‘n groot bekommernis, en vir ander is dit ‘n bedekte seën dat die skole eers op 15 Februarie heropen.

Die Herald het met Sandri Appelgryn, ‘n maatskaplike werker in privaatpraktyk gesels oor hoe die uitgestelde skooljaar weens die Covid-19 pandemie kinders en ouers kan beïnvloed.

Ter wille van kinders, ouers en onderwysers se veiligheid is dit die beste dat skole later begin. Dit kan egter ook ten koste van hulle sosio-emosionele funksionering wees,” het Sandri gesê.

Sy het verduidelik dat sosio-emosionele funksionering verwys na die impak wat ‘n persoon se sosiale omgewing op sy emosionele funksionering het.

“Dit kan dus positief wees dat skole later begin omdat die risiko om blootgestel te word aan Covid-19 minder is. Die teenoorgestelde kan egter ook waar wees indien ‘n langer periode by die huis, probleme soos kindermishandeling of gesinsgeweld kan laat toeneem. Die effek wat die laat skooljaar op kinders se gesindheid mag hê kan verskil van kind tot kind, en kan afhang van elke kind se unieke sosiale omstandighede.”

Sy het gesê dat waar sommige kinders baie negatief mag voel omdat hulle nou nog langer moet wag voordat hulle weer saam met hul maats kan skoolgaan, mag ander kinders weer baie bly wees oor die geleentheid om langer tuis te wees.

Die geleenthede wat verlore gaan om deel te neem aan akademie asook sport en kultuur, mag kinders se gesindheid oor die algemeen egter negatief beïnvloed.”

Sy het verduidelik dat tensy die kurrikulum aangepas word, sal kinders en onderwysers onder geweldige druk geplaas word om al die leeruitkomste te bereik. Die stres wat dit mag veroorsaak kan sekondêre probleme veroorsaak, soos gesondheids- en sielkundige probleme.

“Die skoolkalender is gewoonlik vir mense ‘n riglyn van wat hulle in die jaar kan verwag, wat vir hulle ‘n gevoel van beheer gee, maar tans voel mense angstig en gedemotiveerd as gevolg van die onseker skoolkalender.”

Sy glo dat diegene wat bereid is om aan te pas by die omstandighede wat veroorsaak word deur die uitdagings van Covid-19, ook die mense sal wees wat minder angs ervaar.

Sy het vertel dat almal in die oomblik moet leef eerder as om aanhoudend gefrustreerd te voel oor die teleurstellings wat veroorsaak word deur die onvoorspelbare skoolkalender.

Die gemeenskap funksioneer as ‘n sisteem en die feit dat skoolheropening vertraag word, het ‘n rimpeleffek op die kinders, skoolpersoneel, ouers, organisasies en selfs verskaffers.”

Op die vraag hoe ouers kan keer dat hul kinders nie gedurende die jaar uitbrand nie, het sy geantwoord dat hoe beter ‘n kind in staat is om aan te pas by nuwe omstandighede, hoe minder word die risiko vir uitbrand, ongeag die situasie.

“Dit help om te onthou dat almal in dieselfde onsekere omstandighede verkeer, en ouers moet dus enige onrealistiese verwagtinge van hulle kinders laat vaar.”

Dit wat nou die swaarste weeg, is kinders se veiligheid en sin vir sekuriteit, het Sandri beklemtoon.

“Wanneer kinders veilig voel, werk hul brein die beste en hulle behoort nie sommer uitgebrand te voel nie, maar dit is beter om, indien nodig, professionele hulp te kry met angstigheid of enige ander probleme wat te doen het met ‘n kind se sosio-emosionele vlak van funksionering.”

Volgens Sandri is mense sosiale wesens en het ander mense nodig vir sosiale leer en ‘n gevoel van behorendheid.

Die meeste kinders sien daarna uit om weer tussen ander kinders te wees met die voordele wat sosialisering binne hul portuurgroepe bied.”

Die impak wat die laat skooljaar het, mag weereens verskil van kind tot kind, afhangende van elke kind se unieke sosiale en individuele omstandighede.

“Vir kinders wat afhanklik is van die intervensie van die skool met betrekking tot hul akademiese en sosiale probleme het die laat skooljaar ‘n baie ernstige, negatiewe impak.”

Volgens Sandri mag die laat skooljaar ‘n geweldige negatiewe finansiële en emosionele effek op sekere ouers hê. Ouers wat werk moet ekstra onkostes aangaan om toe te sien dat hul kinders bedags versorg is, en kom saans moeg tuis.

Die situasie kan konflik in ‘n gesin veroorsaak wat kinders gefrustreerd en ouers skuldig laat voel. Dit is dus belangrik dat ouers aan hulself erkenning gee vir hulle pogings om hul gesin veilig te hou. Gesinne wat bereid is om aanpassings te maak sal waarskynlik ook dié wees wat die minste geraak sal word deur die impak van die Covid-19 pandemie.”

Exit mobile version