Local newsNews

Iza is die Herald se nuwe verkoopskonsultant

Iza Loubser is die Herald se nuwe verkoopskonsultant en help graag om jou besigheid te bemark.

Die Herald verwelkom graag sy nuwe verkoopskonsultant, Iza Loubser, by die Caxton-familie.

Iza, 49, het in Desember 2020 by Caxton aangesluit en volgens haar moes sy baie in ‘n kort tyd leer. Sy leer nog elke dag.

“Ek is tans die verkoopskonsultant vir die Randfontein Herald en veral in hierdie moeilike tye help ek mense om hulle besighede te bemark.”

Sy is oorspronklik van die klein dorpie Christiana in Noordwes maar is al sedert 2004 ‘n Krugersdorper.

“Voor ek Krugersdorp toe verhuis het, het ek in Pretoria asook in Durban gewoon. Ek mis die kusweer baie,” het sy vertel.

Sy het Drama geswot by Tuks asook boekhou by Damelin. Iza is die ma van twee dogters van onderskeidelik 18 en 13, en is die afgelope 19 jaar met Diaan Loubser getroud.

“Ek was voorheen die Kliëntediensbestuurder van ‘n Duitse mediese firma en was die afgelope agt jaar betrokke by Laerskool Kenmare waar ek onder andere die bemarking gedoen het.”

Sy het vertel dat sy in September 2020 afgelê is as gevolg van herstrukturering weens Covid-19 en die tol wat dit op skole geëis het. Daarna het sy naarstiglik na werk gesoek, en so op die advertensie van Caxton afgekom het.

Dit het vir my ‘n nuwe uitdaging gebied want ek hou nogal van ‘n challenge, en ek hou van die uitdagings wat dit daagliks bied omdat dit ‘n omgewing met ‘n vinnige tempo is. Geen twee dae is dieselfde nie, dit is soos ‘n adrenalieninspuiting.”

Sy het vertel dat haar grootste prestasies is om die beste ma vir haar en Diaan se kinders te wees, om baie jare terug as Mej Bene Margate gekroon te word, en om die Warrior Race te kon voltooi.

Iza het vertel dat sy baie passievol en energiek is. “Ek is jonk van gees en voel nog 20, alhoewel die brille en pille nou begin inskop – en natuurlik kan ek ‘n lekker uitdaging nie ignoreer nie.”

Volgens haar het sy ‘n baie sagte hart en wens die wêreld kon ‘n beter plek vir almal wees. Sy is mal oor diere en wens dat sy meer kon hê. Hulle het reeds ‘n Yorkie, ‘n kat, twee hase en ‘n krimpvarkie.

Ek hou baie van lekker kos en jy kan my altyd omkoop met ‘n lekker skaaptjoppie. Ek hou nie van onregverdigheid en as mense neersien op ander nie. Moet ook asseblief nie vir my jok nie, dan is my humeur so kort soos ek!”

Toe sy uitgevra is oor haar stokperdjies, het sy vertel dat toe sy nog tyd gehad het, het sy netbal gespeel en hip-hopklasse geneem tot sy so 40 jaar oud was. Sy doen ook so nou en dan naaldwerk.

“Ek was ook ‘n adrenalien-junky wat gehou het van absailing, river rafting en base jumping, maar sedert ek ‘n ma geword het, het ek daardie sy van my ‘n bietjie opsy gestoot.”

Haar stokperdjie is nou om haar kinders rond te ry en sy hou ook van kosmaak, maar net as sy in die bui is om iets nuuts te probeer. Iza verpes die vraag “Wat is vir aandete, ma?”.

Sy en haar dogter is betrokke by welsynswerk wanneer die tyd dit toelaat.

Iza het die volgende boodskap vir die gemeenskap:

Daar is altyd ‘n uitkoms, maak nie saak hoe moeilik jou omstandighede is nie. Kyk vorentoe en leer om geleenthede raak te sien en dit dan met passie aan te pak. Jy is nooit te oud om te leer nie, en aanvaar verantwoordelikheid vir jou keuses.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button