Ontmoet die eerste Mnr Wes-Rand

Meneer Wes-Rand 2021, Richard Haasbroek, wil in sy jaar as titelhouer 'n positiewe verskil maak.

Richard Haasbroek, die nuwe Mnr Wes-Rand het nooit verwag om te wen toe hy vir die kompetisie ingeskryf het nie.

Die Mnr Wes-Rand-titel is nie net sy eerste en enigste nie, maar dit was ook die eerste modelkompetisie waaraan hy deelgeneem en boonop gewen het. Dit was ook die eerste keer dat hierdie titel aan iemand toegeken is en die 24-jarige Richard besef dat hy nou baie verantwoordelikheid het, aangesien hy die hele Wes-Rand verteenwoordig.

Hy het verduidelik dat ‘n vriendin hom gevra het om saam met haar in te skryf, en hy het dit as ‘n uitdaging beskou en ‘n manier om uit sy gemaksone te beweeg.

Ek is sportief en neem nie regtig aan sulke kompetisies deel nie, maar dit was vir my baie lekker,” het hy laggend vertel.

As deel van die kompetisie moes die deelnemers by liefdadigheidswerk betrokke raak en Richard het besluit om sy sportagtergrond te gebruik en so ‘n verskil te help maak.

Hy het deelgeneem aan ‘n 5km-pretloop vir liefdadigheid, en ook by ‘n jeugrugbyspan in Randfontein betrokke geraak. Hy het gesê dat hy ‘n voorbeeld vir veral die jeug wil wees. Hy het ‘n sagte plekkie vir kinders en het verduidelik dat hy as kind dit self nie breed gehad het nie. Juis daarom verstaan hy waardeur sommige van die kinders gaan.

“Ek wil daar wees om te help,” het hy bygevoeg.

Behalwe vir die jeug het Richard ook ‘n liefde vir diere, en beplan om sy tyd vanjaar as Meneer Wes-Rand 2021 tussen die twee inisiatiewe te verdeel. Modelkompetisies is niks vreemd vir sy familie nie en selfs sy ouers was eens op ‘n tyd titelhouers.

My hele familie is trots op my,” het hy gesê.

Wanneer Richard nie besig is as assistentvoorman by die werk nie, speel hy rugby en is ‘n lid van die Roodepoort Rugbyklub. Hy het reeds sy SA-kleure in amateurstoei verwerf.

Hy het vertel dat hy groot planne het vir die jaar wat voorlê en wanneer hy sy kroon moet oorgee aan die nuwe Meneer Wes-Rand wil hy seker wees dat hy iets nalaat – iets wat nog lank ‘n verskil in baie mense se lewens gaan maak.

Exit mobile version