Afskeidsdiens vir Jannas-matrieks

"Hou aan en as jy moeg word, dink aan die doelwitte wat jy vir jouself gestel het."

‘n Kerkdiens is vroeër die week vir die matrikulante van Jannas gehou om van hulle afskeid te neem, en om hulle sterkte toe te wens vir die eksamen en die toekoms.

Almerie Katzke, adjunkhoof van Jannas het vertel dat Riaan Schmulling, hoof van die Godsdiens Opening-groep ‘n gedeelte uit die Bybel met die leerders en ouers gedeel het wat hulle vir die res van hul lewens kan saamdra.

Hy het Psalm 32:7–9 gelees en die GO-groep het aan elke matrikulant ‘n Bybel gegee om saam met hulle te neem op hulle reis.

“Aan die begin van die jaar was almal opgewonde en kon nie wag om die jaar aan te pak nie, maar toe kom die grendeltyd,” het sy vertel.

Sy het bygevoeg dat hulle matrieks ten spyte van die uitdagings bitter hard by die huis gewerk het.

“Vir ‘n matrikulant is die Graad 12-jaar nogal ‘n gedoente om te oorleef, maar met goeie vriende en toegewyde onderwysers se ondersteuning staan Jannas se matrieks nou voor die laaste hekkie van hulle hoërskoolloopbaan,” het Almerie gesê.

Matrikulante van Jannas loop deur die erewag. Foto ingestuur.

“Hou aan en as jy moeg word, dink aan die doelwitte wat jy vir jouself gestel het. Stel dus jou vertroue in God vir die eksamen wat voorlê en vir die res van die onbekende reis na jou drome. Hoërskool Jan Viljoen dien God onbeskaamd en bid Sy seën toe oor hulle matrikulante, skool, personeel en gemeenskap,” het skoolhoof Sarel Steyn gesê.

Hy het as volg met die woorde van Raplh Waldo Emerson afgesluit … “What lies behind us and what lies before us are tiny matters compared to what lies within us!”

Exit mobile version