Local newsNews

Gejag deur die lens

Ek het al die Groot Vyf en 'n klomp ander diere afgeneem, maar nog nooit 'n jagluiperd nie. Hulle het my vir meer as 10 jaar ontwyk, en nou het ek hulle!

Ek het onlangs die voorreg gehad om ‘n bietjie weg te breek en weer die Pilanesberg te besoek.

Dit was ‘n lang wag want die hoë vlakke van Covid-19 inperking het verhoed dat ons kon gaan ontspan.

Ek en my familie gaan so twee keer per jaar na die gewilde reservaat om die natuur te beleef. Ongelukkig kon ons toe nie weens die inperking soos gewoonlik in Maart gaan nie, wat beteken het dat ons in Oktober 2019 laas daar was. Dit het my hart gebreek, want daar is darem niks lekkerder as om in die bos te wees nie.

Wat hierdie besoek aan die Pilanesberg op 3 en 4 Oktober so spesiaal gemaak het, is dat ek vir die eerste keer ooit jagluiperds met my eie oë – nogal 10 meter ver – daar gesien het. Sommer vyf van hulle!

En ja, ek het hulle afgeneem. Fotografie is ‘n stokperdjie en ek probeer altyd om al wat ‘n dier en insek is af te neem.

Ek het ook gesien hoe ‘n leeu jag, maar ongelukkig was dit net te ver om af te neem. Ander hoogtepunte waarvan ek julle wil vertel is dat bobbejane in ons kamer ingekom het en amper my onderbroek gesteel het, en van die oulike oomblik tussen ‘n renosterkoei en haar kalf. Oom Olifant, of Oupoot soos ek hom ken van skooldae af, was ook daar, en ons het ‘n bruin hiëna gewaar wat aan ‘n karkas gevreet het. Ons kon nie te lank daar bly nie want die reuk was verskriklik. Ons het ook ‘n buffel gesien wat in die modder gespeel het.

‘n Buffel wat in die modder speel.

Die vakansie-oord in die Pilanesberg waarheen ons altyd gaan is nogal gewild onder buitelanders. Mens het jou eie berghut waar jy self kan kos maak, daar is ‘n swembad, kroeg of drie, hotel, restaurante en basies alles wat jy wil hê.

Maar ons gaan eintlik soontoe om die natuurlewe af te neem.

Wat die jagluiperds betref sal enigiemand wat van natuurlewefotografie hou vir jou sê mens kry nie elke dag so ‘n kans nie.

Die renosterkoei en haar kalf.

Dit was ‘n reënerige dag en ek het geweet ons vroeg in die pad moes val. Deesdae kry mens mos ook ‘n toep (app) wat jy kan volg. Ek het dit afgelaai en my roete mooi beplan. Die probleem is dat daar nie ‘n goeie sein in die reservaat nie, dus moes ek ‘n bietjie raai ook. So 15km in die reservaat in, en nadat ons 10 keer op en af gery, omgedraai en weer probeer het, toe gebeur dit … Ek sien hulle … ‘n Ma-jagluiperd en haar welpies, almal mooi gesond en reg om te jag.

Toe ons weer sien is almal in die voertuie om ons besig om hierdie oomblik op hul kameras vas te lê.

Oom Olifant, jou reuse dier! Hierdie olifant was heeltemal alleen.

Ek het al die Groot Vyf en ‘n klomp ander diere afgeneem, maar nog nooit ‘n jagluiperd nie. Hulle het my vir meer as 10 jaar ontwyk, en nou het ek hulle!

Dit was so lekker om ‘n bietjie weg te kom en te ontspan.

Waar was jy al oral? Vertel ons deur ‘n epos te stuur na krugersdorpnews@caxton.co.za of randfonteinherald@caxton.co.za.

Related Articles

Back to top button