‘n Skenkernier is al uitweg

As Janine vir langer as ‘n week nie dialise ontvang nie, sal sy doodgaan.

Janine Harmse lyk soos ‘n doodgewone vrou met ‘n glimlag op haar gesig en ‘n huppel in haar stap.

Sy is ‘n werkende enkelma met ‘n seun van 11 jaar.

“Ek is mal oor kook, onthaal en tuinwerk, en ek is gedurig met die een of ander kunsvlytprojek besig.”

Janine, 41, het vertel dat mense wat haar ontmoet en later uitvind dat sy kronies siek is, se monde dan oophang, en bygevoeg dat sy vas besluit het dat haar mediese toestand haar nie sal onderkry nie.

Haar nierkwaal het begin tydens haar eerste swangerskap in 2005.

“Ongelukkig het ek die baba verloor en is van toe af al op medikasie,” het sy verduidelik.

In 2008 is haar gebede verhoor en is haar seun gebore.

Sy het vertel dat sy in 2016 al hoe sieker geword het en drie maal na mekaar met brongitis gediagnoseer is.

“Een Sondag het my pa my heeltemal teen my sin na die ongevalle-afdeling van ‘n privaathospitaal geneem. Die dokter aan diens het dadelik gevra of ek nierprobleme het. Altyd optimisties was my antwoord, ‘Ja, maar moenie bekommerd wees nie, ek drink my bloeddrukpille!’.”

Voor sy haar oë kon uitvee is sy in die intensiewesorg-eenheid van die hospitaal opgeneem, waar sy dadelik op nooddialise geplaas is.

“Twee weke later is ek ontslaan en ontvang sedertdien drie maal per week dialise. My niere funksioneer glad nie meer nie en spesialiste kon nog nie verklaar hoekom ek nierversaking het as ek reeds vier jaar op dialise is nie.

“Die algemene opinie is dat ek ‘n outo-immuunsiekte het wat vereoorsaak dat my liggaam my eie niere verwerp, en ek kan dus nie gifstowwe of oortollige vloeistof uitskei nie.”

As Janine vir langer as ‘n week nie dialise ontvang nie, sal sy doodgaan.

“Ek mag nie meer as vier liter vloeistof oor ‘n tydperk van twee dae inneem nie. ‘n Oggendkoffie, koue vrugtesap, roomys, joghurt en slaaisous tel alles as vloeistof, en ek moet met elke maaltyd pille drink om my fosfate onder beheer te hou.”

Sy mag slegs sekere kosse eet en daar word maandelik bloedtoetse gedoen om haar kalium-, kalsium- en ureumvlakke dop te hou.

Die enigste oplossing is dat sy ‘n skenkernier ontvang, hoewel Janine dit as selfsugtig beskou om vir iemand vir so ‘n groot opoffering te vra. Sy glo nie dat sy ‘n nier meer as enigiemand anders verdien nie.

Janine Harmse het altyd ‘n glimlag op haar gesig, maar kort ‘n kans op ‘n normale lewe. Foto: Michelle Roodt.

“Maar toe ek vir ‘n kind gebid het was my belofte aan God dat ek alles in my vermoë sal doen om my kind veilig, gelukkig en tot eer van Sy naam groot te maak. Om vir ongeveer 15 uur ‘n week aan ‘n masjien gekoppel te wees en elke keer na dialise soos ‘n uitgewaste stoflap te voel, maak die kwaliteittyd saam met my seun al hoe minder,” het Janine verduidelik.

Die pypie waardeur sy dialise kry, moet ook elke twee jaar in die teater vervang word, wat beteken dat sy in die hospitaal opgeneem moet word.

“Die bekommernis en spanning wat ek in my kind se stem hoor as hy bel om te hoor hoe dit met sy mamma gaan, breek my hart. Geen kind is veronderstel om soveel laste te moet dra nie..

Selfs vakansies moet so beplan word dat sy steeds 16 uur per week in ‘n hospitaal se dialisesentrum kan deurbring.

“My ouers is gewillig om ‘n nier te skenk, maar my pa is ’n diabeet en my ma is nie in die gepaste bloedgroep nie.”

Volgens Janine is die waglys vir ‘n nier boonop tussen drie tot agt jaar. “Om op die waglys te kom, moet jy 100 persent gesond wees, en dit behels talle ondersoeke”.

Janine se bloedgroep is A positief en sy kan ‘n nier ontvang van ‘n skenker in die A positief- of O positief-bloedgroep.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version