Jannas spog met hul kuns

'Ek is verheug dat die aand ‘n reuse sukses was – van die blomme en ligte tot die professionele wyse waarop die kunswerke uitgestal is.'

Hoërskool Jan Viljoen het op Woensdag, 14 Oktober ‘n spogkultuuraand aangebied waar hul Graad 12’s se pragkunsstukke ten toon gestel is.

Die tema van die aand was Une Soireé des Art, ‘n Franse frase wat ‘’n aand van die kunste’ beteken, en dit was werklik so.

Volgens Magriet Botha, kunstenaar en die skool se Visuele Kunste-onderwyser is hierdie kultuuraand die eerste van sy soort. Die stylvolle geleentheid sal ‘n jaarlikse instelling word.

Tenika Potgieter by haar kunsstuk. Foto: Michelle Roodt.

Magriet asook Rudie van Wyk, ‘n taalonderwyser en musikant was die organiseerders.

Die Graad-12 Visuele Kunste-leerders se kunswerke is uitgestal. Covid-19 het baie uitdagings gebied, maar die Jannas-leerders het baie hard gewerk en kan nou die vrugte daarvan pluk,” het Magriet vertel.

Die spogaand is geopen met ‘n tromsolo deur Dylan the Drummer, ‘n Graad 7-leerder van Laerskool Dr Havinga. Die Jannas Band het daarna ‘n aantal treffers gespeel.

Junyde Pietersen by sy kunswerk. Foto: Michelle Roodt.

Twee ballerinas het ‘n uitvoering gegee, gevolg deur talentvolle Jannas-leerders wat die gaste vermaak het met klavier-, viool- en elektriese kitaarmusiek. Intussen het gaste lekker geëet, gekuier en die kunswerke bewonder.

Volgens Magriet was die doel van die uitstalling om ‘n platvorm te skep om die Graad 12-leerders se kuns aan die Randfontein-gemeenskap te toon te stel en om hulle talentvolle leerders blootstelling te gee.

“Ons het al aan die begin van die jaar besluit dat Jan Viljoen ‘n spoguitstalling vir die Graad-12 Visuele Kunste-leerders sal hou en toe die grendeltydperk verlig word, het ons dadelik aan die werk gespring om vir die funksie voor te berei,” het Magriet vertel.

Leandri Pretorius by haar kunswerk. Foto: Michelle Roodt.

“Ek is verheug dat die aand ‘n reuse sukses was – van die blomme en ligte tot die professionele wyse waarop die kunswerke uitgestal is, het alles bygedra tot die atmosfeer,” het sy vertel.

Die aand was spesiaal vir die Graad 12-kunsleerders en ek kon sien hoe blink hulle van opgewondenheid!” het Magriet afgesluit.

Exit mobile version