NewsSchools

Ram verwelkom hul leerders

Na byna vyf maande is Laerskool Randfontein opgewonde om na hul 'nuwe normaal' te begin terugkeer.

Te midde van die ergste pandemie van ons tyd het Laerskool Randfontein (Ram) met Rammiemoed dit reg gekry om in die ‘nuwe normaal’ effektiewe onderrig aan hul leerders te bied.

“Ons was uiters gelukkig om ongelooflike samewerking van ons leerders en hul ouers te kon ontvang, en dit het dit vir Ram moontlik gemaak om baie vroeër as die beoogde terugkeerdatums reeds met alle grade te kon voortgaan.

Skandering, die dra van maskers, gereelde sanitering en die handhawing van sosiale afstand is deel van elke dag se verrigtinge. Ons beleef ongelooflike samewerking van ons leerders en selfs pouses word al die protokols sonder moeite nagekom,” het Leon Haupt, hoof van Ram gesê.

Die hele skool is tans in twee groepe verdeel, en leerders gaan in hul groep op alternatiewe dae skool. Dit beteken dat elke leerder vyf keer in twee weke skoolgaan.

“Ons het geen twyfel dat Ram se leerders die verkorte kurrikulum sal voltooi en die eindeksamen in Desember sal kan aflê nie. Soos wat dit warmer geword het en infeksietellings gedaal het, het meer en meer leerders teruggekeer skool toe. Die bywoningsyfer is nou meer as 92 persent, waarvoor ons werklik dankbaar is.

Dit is ‘n voorreg om amper al ons leerders weer by die skool te kan hê. Ons aanvaar dat inperkings nog vir ‘n onbepaalde tyd in plek gaan wees, maar ons sien werklik uit na die dag wanneer buitekurrikulêre aktiwiteite ook hervat mag word.”

Ram fokus nou eers op die voltooiing van die verkorte kurrikulum. Intensiewe onderrig word daagliks aangebied sodat die nodige formele assessering kan plaasvind en leerders toegerus kan word om die eindeksamen suksesvol te kan aflê. Verder word daar binnekort ‘n virtuele oueraand beplan waartydens elke voogonderwyser met sy/ haar klas se ouers virtueel sal vergader.

Enkele leerders met komorbiditeite werk nog van die huis af, maar spesiale reëlings is ook in plek om hierdie leerders se formele assessering te laat plaasvind.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir ons toegewyde personeelkorps, ons baie betrokke beheerliggaam en die Departement van Onderwys wat in hierdie uitdagende tye elkeen ‘n belangrike rol gespeel het om te verseker dat effektiewe onderrig kon plaasvind, poste behou kon word en genoegsame saniteermiddels ontvang is om alle protokols te kon nakom.

Ons innige simpatie aan alle families in Randfontein wat geliefdes aan die dood moes afstaan. Ons vertrou dat ons stadigaan besig is om die stryd te wen en dat ons kort voor lank sonder enige maatreëls ons lewens volgens die ‘ou normaal’ sal kan hervat,” het hy bygevoeg.

Related Articles

Back to top button