Riebeeck-leerders terug in die klas

Hoërskool Riebeeckrand se hoof is opgewonde oor die feit dat al die skool se leerders vir die eerste keer in vyf maande weer op die skoolbanke kan sit.

Hoërskool Riebeeckrand was baie dankbaar om einde Augustus hul leerders weer in die klaskamers te kon verwelkom.

“Om al ons leerders na meer as vyf maande weer terug te hê by die skool, verskaf vir ons as skoolgemeenskap ‘n groot gevoel van dankbaarheid en vreugde. Riebeeckrand is nie ‘n volwaardige skool sonder al ons pragtige leerders nie,” het Annelize van den Berg, Riebeeckrand se hoof gesê.

Alhoewel die matrieks, Graad 11’s en 10’s reeds vir ‘n geruime tyd by die skool was, was die Graad 9’s slegs een dag by die skool voor die veranderde skooldae ingestel is. Die Graad 8’s is ook eers sedert 24 Augustus weer terug by die skool.

Dit was vir ons heerlik om almal weer te kon sien. Ons wens vir ons leerders is dat hulle rustig sal wees, sal weet dat ons vir elkeen van hulle omgee, en alles in ons vermoë sal doen om hulle eerstens veilig te hou, en tweedens om hulle voor te berei vir die eise van die akademie.”

Sy het bygevoeg dat hulle graag vir hul ouergemeenskap die versekering gee dat hul kinders se welsyn vir die skool ook baie belangrik is.

“Met geloof en hoop in ons harte, en saamstaan en vasbyt, sal Riebeeckranders uiteindelik oorwin. Die jaar sal steeds goeie herinneringe kan inhou en ons weet ons personeel, beheerliggaam, ouers en leerders doen steeds alles ‘Voluit vir Riebeeckrand’. Aan die matrieks wat rekordeksamen skryf – sterkte!”

Exit mobile version