Oval amper weer reg vir wedrenne!

Die Randfontein Oval Renbaan-eienaars sien daarna uit om binnekort weer wedrenne op hul baan aan te bied.

Nadat daar vir meer as vier maande stilte oor die Randfontein Oval Renbaan gehang het, is dinge besig om stadig weer aan die gang te kom.

“Drywers en toeskouers was baie ongelukkig oor ons nie die baan vir die publiek kon oopmaak gedurende die grendeltyd nie, want dit het beteken dat hulle nie hul passie en hul sport kon geniet en uitleef nie,” het Marilize Coetzee, een van die promotors van die Randfontein Oval Renbaan gesê.

Die Oval Renbaan-eienaars hoop dat hulle binnekort weer die baan sal kan oopstel sodat mense die drywers se renmotorvernuf kan bewonder. Foto ingestuur.

‘n Paar drywers het die baan gehuur om gedurende dié tydperk te oefen. Hulle weet egter nog nie wanneer hulle weer wedrenne op die baan sal kan hou nie, en hulle wag om te hoor hoe die aansoek van World of Motorsport ZA, waarby hulle geaffilieer is, gevaar het.

“Ons hoop dat ons binnekort weer sal kan oopmaak. Ons drywers is baie opgewonde om weer te kan begin oefen en vir die geleentheid om hulle karre reg te maak voor die wedrenne weer begin. Ons kan nie wag nie. Ons doen dit al vir 25 jaar en nou kon ons vir maande nie ry nie. Ons mis ons drywers en die publiek wat al deel van ons familie is.”

Die Oval Renbaan-eienaars hoop dat hulle binnekort weer die baan sal kan oopstel sodat mense die drywers se renmotorvernuf kan bewonder. Foto ingestuur.

Volgens Marilize kan drywers en die publiek uitsien na nuwe kompetisies wat voorlê, asook nuwe drywers en nuwe karre, sodra hul weer kan oopmaak.

“Ons het gesien hoe almal in hierdie tyd saamstaan, want die hele gemeenskap mis die wedrenne,” het sy bygevoeg.

Exit mobile version