Riebeeckrand stel gemeenskap gerus oor Covid-19-gerugte

"Omdat die betrokke leerder reeds vir 'n week nie by die skool was nie en die skool so gereeld skoongemaak word, was dit nie nodig om die skool te sluit of spesiaal te laat ontsmet nie"

Hoewel ‘n leerder van Hoërskool Riebeeckrand onlangs positief getoets het vir Covid-19, is daar volgens die skool geen rede tot kommer oor ‘n moontlike uitbreking van die siekte by die skool nie.

‘n Besorgde ouer die Herald gekontak oor die moontlikheid daarvan omdat die skool nie vir ‘n tydperk gesluit het om ontsmet te word nie. Volgens Annelize van den Berg, hoof van Riebeeckrand, het hulle van die begin af die korrekte prosedure gevolg en wil die gemeenskap gerusstel dat dit ‘n geïsoleerde geval was.

“Die skool kan eerstens nie self besluit om te sluit nie. Die Departement van Gesondheid, in samewerking met die Departement van Onderwys besluit daaroor. Op Vrydag 10 Julie het ek die skriftelike verslag van ‘n Graad 12-leerder se Covid-19 toetsuitslag gekry – dit was positief. Volgens vereiste protokol het ek onmiddellik die Departement van Gesondheid geskakel. Die leerder was egter op 2 Julie laas by die skool.”

Sy het verduidelik dat hul klasse na elke periode ontsmet word en dat deurhandvatsels, -kosyne, personeetafels, ens. ook daagliks skoongemaak word. Badkamers word na elke pouse deeglik skoongemaak en ontsmet. Voldoende saniteerder, seep, water en papierhanddoeke is beskikbaar. Sy het ook genoem dat leerders se hande in die oggend en aan die begin van elke periode ontsmet word.

“Omdat die betrokke leerder reeds vir ‘n week nie by die skool was nie en die skool so gereeld skoongemaak word, was dit nie nodig om die skool te sluit of spesiaal te laat ontsmet nie. Die virus leef volgens navorsing vir ‘n maksimum van 72 uur op oppervlakke. Daar was dus geen gevaar hoegenaamd meer dat enige plek in die skool besmet was nie.”

Die leerder het vir die skool die name gegee van die leerders met wie hy in nabye kontak was en hierdie leerders is dadelik huis toe gestuur en moes selfisoleer. Nie een van die leerders het enige simptome getoon nie. Van hierdie leerders het bevestig dat hulle nie eens werklik met hom kontak gehad het nie, omdat hulle die korrekte sosiale afstand behou het en hul maskers die heeltyd op het. Nogtans is hulle huis toe.Annelize het ook die personeel ingelig en ?n afkondiging oor die interkom gemaak om die leerders in te lig en te verseker dat hulle veilig is. Sy het ook ‘n brief aan hul ouers gestuur.

“Die inligting is deurgestuur na die Departement van Onderwys se Distrikkantoor en hulle het my geskakel en bevestig dat ons 100 per sent korrek en volgens die vereistes opgetree het. Daar is geen twyfel by my dat ons optrede geen leerder of personeellid in gevaar gestel het nie. Ons leerders en personeel se veiligheid is vir ons baie belangrik en ons sal altyd in hul belang optree,” het sy bygevoeg.

Exit mobile version